BlogsOpinion

Hoofartikel: Seer laat mense swyg

Niemand mis die spasies wat eens deur jou woorde, menings of aankondigings gevul is nie.

Die mense is broos; hulle het seer.

Dit is hoekom hulle jou sommer sal hap; tande sal inslaan in jou sagte winterslyf.

Jy ervaar dit al meer en besluit om te swyg oor dinge wat ander kan irriteer, affronteer of verinneweer.

Foto: freepik

Jy sit jou vinger op jou mond en sluit sekere dinkgoed in jou hart toe. Jy sê nie meer hoe jy voel oor die entstof, jou huiswerker se lot, jou kind se eerste bok, bloederige jagrituele, die NG Kerk, immigrasie of destyds se “ja”- en “nee”-stemmery nie. Jy het basies geen mening daaroor nie.

Jy is kop onder die kombers daaroor. Jy praat nie daaroor nie. Jy swyg, want jy sal seerkry; jy sal pak kry.

Dit is selfs gevaarlik om bloot daardie woorde te nóém.

Bang bang, you shot me down, het Sonny en Cher jare gelede gesing.

“Bang bang.
I hit the ground.
Bang bang, that awful sound”.

Liefs kyk jy deesdae; sonder om noodwendig te sê. Jy sien ’n etenstafel wat verruklik in sy eenvoud gedek is.

Jy ry verby ’n grys gebou en draai jou nek om weer — en nog een keer — te kyk na iemand wat ’n mooi bont blomrok of opvallende rooi uitrusting dra. In hierdie tye, nogal!

Jy swymel oor die reuk van varsgesnyde gras, nat grond of varsgebakte piesangbrood en kyk saans na die formasies om die maan eerder as die televisieskerm.

Jy raak skoon hartseer by die beskouing van ’n ou klipkraal, Karoo-windpomp of ’n lappie olienhoutbome op ’n hoogtetjie.

Jy let opnuut die kleur van koring op en staar verwonderd na die wasigheid van spierwit katoen in ’n bruidsruiker. Kompleet nes watte.

Jy merk ’n meerkat se kordate gesig agter ’n miershoop op of volg ’n blou kraanvoël wat by jou oë verbyskuif.

Jy wens jy kan net een keer die lied van ’n nagtegaal hoor; ’n regte nagtegaal. Jy verwonder jou oor die gemaklikheid van lepel-lê, die kurwe van ’n ouerwordende geliefde se heup, die luuksheid van winterlakens.

Die grofheid van ’n handgebreide trui of lappieskombers laat jou hart jubel. Die betowering van ’n begaafde violis se vingers of die vlamme van ’n buitevuur ontroer jou onverklaarbaar.

Jy gooi jou hande verbaas uit as jy soggens, douvoordag, die melkerigheid van ’n onverwagse digte miswolk of motreën oor jou dorp ervaar.

Jy glimlag woordloos vir die kat wat sy wolle uitpof en sy vietse pootjies een vir een in ’n sonkol sit en aflek.

Jy knik beleefd vir die bejaarde vrou wat elke aand met haar hondjie aan ’n leiband verby jou motor stap.

Niemand mis die spasies wat eens deur jou woorde, menings of aankondigings gevul is nie.

Die mense wil dit nie meer hoor nie. Hulle het te seer. Hulle is te broos.

Related Articles

Back to top button