BlogsOpinion

Hoofartikel: Wat doen die media?

“Die media speel deesdae ’n baie belangrike rol — amper so belangrik soos jou daaglikse brood en melk.”

Só beskryf Devesh Kumar, bekende Indiese You Tube-kunstenaar, die rol van koerante en tydskrifte in vandag se onsekere tye.

Verbeel jou jy skuif met jou eerste koppie koffie van die dag agter jou rekenaar in. Jy lees op Facebook se gemeenskapsgroep dat nog ’n pyp gebars of nog ’n hond weggeraak het.

Jy lees jou buurman se mening oor alledaagse dinge en jy begin self deelneem aan die gesprek. Hier en daar is iemand wat genoeg weet van ’n saak om jou te help om agter die spreekwoordelike kap van die byl te kom.

Tog soek ons altyd meer: Meer inligting, meer menings, meer kommentare, meer reaksie.

Ons wil weet wie, wat, waar, wanneer, hoe en hoekom. In deesdae se lewensoriënteringhandboeke leer selfs skoolleerders oor die sogenaamde rol van die media in ’n moderne samelewing.

Soms lyk die antwoorde só: “Die rol van die media is om die gemeenskap in te lig oor daaglikse gebeurtenisse wat nuuswaardig is en om te vermaak, byvoorbeeld deur Suid-Afrikaners in te lig oor busbestuurders wat staak vir hoër lone.”

Dit is ’n baie vereenvoudigde beeld, maar tog steek daar ’n tikkie waarheid daarin. Die media se rol is om ’n gemeenskap in te lig.

Ja, Facebook-nuus is ook nuus en agter elke brokkie fopnuus op die internet en sosiale media is daar dalk ’n tikkie waarheid wat agter die inhoud wegkruip.

Hoekom het mense dan steeds ’n koerant nodig? In ’n parlementêre vergadering in Queensland het ’n Australiese joernalis onlangs gesê: “Die media speel ’n belangrike rol in die samelewing as bron van inligting, maar ook as ’n waghond; iemand of iets wat dieper ondersoek moet instel om die waarheid te beskerm.”

Dit blyk ’n internasionale waarheid te wees: Koerante is steeds telkens die enigste bron van objektiewe nuus.

Of dit nou ’n artikel oor die gehalte van munisipale dienslewering, die storie van ’n ougetroude paartjie op die dorp, of die waarheid agter die wanbesteding van belastingbetalersgeld is. Joernaliste is verantwoordelik daarvoor om alle moontlike inligting te versamel en weer te gee.

Daar word gesê dat elke saak drie kante het: Jou mening, my mening en die waarheid. Dit is juis hierdie waarheid waaroor plaaslike koerante verslag doen.

Die media gee dikwels die deurslag in die oplos van belangrike probleme. Dink byvoorbeeld aan daardie een groot slaggat om die draai by jou huis, of die lekkende brandkraan wat jou die afgelope twee maande die harnas injaag.

Hoekom is daardie gat nog daar? Wanneer word dit herstel? Waarom neem dit só lank? Die buurvrou sê dan sy het dit al vier keer aangemeld.

Dít is die vrae wat plaaslike koerante moet en kan antwoord. Neem deel aan die gesprek, word deel van die verskil en maak seker jóú storie word vertel.

Kontak gerus Die Pos-koerant vir enige stories, wenke, navrae of advertensies by thabapos@gmail.com en werk saam met ons om hoorsê om te skakel in “hoor wat ons het om te sê.”

Related Articles

Back to top button