BlogsOpinion

Hoofartikel: Sien jy alles om jou raak?

Met my aankoms in Februarie as nuwe intrekker in Thabazimbi, het ek my kinderlik opgewonde aan alles om my verkyk.

Ek het langs die pad stilgehou om foto’s te neem van die bobbejane wat elke dag langs die pad loop.

Ek het my verkyk aan die reusagtige masjienerie en die heldergeel koekepan wat ’n mens begroet wanneer jy die dorp inry.

Ek het verby die NG Kerk gery en gewonder hoekom daar ’n vis op die toring troon en ek het gedink: Waar is die haan wat op die kerktoring staan? Bo in Van der Bijlstraat is ’n klipstapel gepak, maar die gedenkplaat is lankal weg.

Dit het my laat wonder wat daarop gestaan het? Wie kan onthou, of het iemand ooit opgelet dat die gedenkplaat nie meer daar is nie?

Week na week ry baie van ons op die pad uit Koedoeskop toe en week na week verander dié gesig: Einde Maart het die sonneblomme giggelgeel die son gevolg en nou, in Mei, hang die koppe al grondwaarts — gereed vir oes.

’n Maand gelede het die katoen-landerye net-net wattewit begin uitstoot en vandag staan die velde wit soos sneeu en ruig en dit laat ’n mens wonder hoeveel van die wonderskoon jy misloop as jy nie élke dag werklik kyk nie.

Marcel Proust het gesê die pad na selfontdekking lê nie noodwendig in ’n reis na êrens anders nie, maar eerder ’n reis deur dit wat jy klaar ken, maar anders besigtig.

Soms fokus ons só op die slaggate wat nie herstel word nie, dat ons nie eens ag geslaan het op die begraafplaas se vars gesnyde gras nie.

Of ons oë is so gerig op ons bestemming dat ons nie sien hoe ons vriende vir ons wuif wanneer hulle by ons verbyry nie.

Thabazimbi is alombekend vir die magtige Ysterberg wat ons van alle kante af omvou en die majestueuse aasvoëls wat al vir jare by ons nesskop.

Ons is omring deur prentjiemooi vlaktes en asemrowende natuurskoon, wilde diere wat soms bloot armlengtes ver van ons af is en selfs argitektuur wat die Bosveld-landskap afrond soos ’n foto in ’n raam.

Die “wyse mense” sê altyd ons moet kýk en nie net sien nie en Die Pos- koerant wil ons lesers uitdaag om saam met ons ’n pad te stap.

Trek jou kamera nader (deesdae sommer ’n selfoon) en wys ons hoe lyk Thabazimbi deur jou oë.

Stuur gerus vir ons jou foto’s na thabapos@gmail.com en leer weer van voor af om die mooiheid van ons dorp te waardeer.

Related Articles

Back to top button