BlogsOpinion

Hoofartikel: Deel die goeie nuus

Ander se geluk raak ons tog nie, of hoe?

Die spreekwoord lui “geen nuus is goeie nuus”, maar is dit werklik so?

In koerante, tydskrifte en regoor sosiale media vier slegte nuus gewoonlik hoogty.

Stories oor diefstal, moord en roof en swak dienslewering is oral en ons is geneig om dié stories soos soetgoed op te eet.

Maar wat het dan van goeie nuus geword? Dalk voel “geen nuus” net beter omdat die mensdom afgestomp geraak het vir goeie nuus? Wat is goeie nuus, of eerder, wat maak mense se “goeie nuus” nuuswaardig? Ander se geluk raak ons tog nie, of hoe?

Die Amerikaanse akteur en filmmaker TD Jakes het gesê as ’n mens goeie nuus deel, deel jy ook geluk en daarom is dit belangrik dat ons weer leer om ons goeie nuus met mekaar te deel.

Of dit nou die geboorte van ’n kind, die koop van ’n nuwe huis, ’n nuwe sakeonderneming wat iemand begin of selfs net iemand se verjaarsdag is — dié stories is die nuus wat ons moet deel.

Sielkundige studies toon dat mense tweedehandse geluk ervaar wanneer ’n mens goeie nuus hoor. ’n Groep sielkundiges het in 2017 tydens die Vereniging vir Persoonlikheid- en Sosiale Sielkunde se jaarlikse kongres bespiegel dat die impak wat ander se goeie nuus op ’n mens se sielkundige welstand het, van onskatbare waarde is.

Dalk het Jakes ’n punt beet — “as jy goeie nuus deel, deel jy ook geluk”.

Neem dié week ’n bietjie tyd vir jouself en gaan soek goeie nuus. Gaan maak ’n draai by die bure wat jy lanklaas gesien het.

Koop ’n brood vir ’n bedelaar, deel ’n glimlag met ’n vreemdeling of stuur ’n grappie aan vir iemand wat ver van jou af woon.

“Geen nuus” is bloot géén nuus. Dit is ons verantwoordelikheid om ons en ander se stories, ons nuus, met die mense om ons te deel.

Wanneer jy môre-oggend met jou eerste koppie koffie in die hand sit en deur die nuushooftrekke blaai, skuif die slegte nuus vir eers opsy en deel eerder iets moois met die mense om jou.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button