BlogsOpinion

Hoofartikel: Wees saam met ons bly

’n Leser van Die Pos kla onlangs omdat daar “te veel advertensies” in die koerant is.

Dit volg ná ’n jaar waarin die gedrukte media letterlik op sy knieë gedwing is. Koerante met trotse tradisies het wêreldwyd hul deure toegemaak.

Duisende gesoute joernaliste is afgedank. Rolperse het tot ’n stilstand geknars terwyl al hoe meer verafgeleë kafees en padstalletjies opgehou het om koerante op hul rakke aan te hou.

Dié leser se klagte wou my laat huil — van dankbaarheid en verligting tegelykertyd. Want as dít die geval is, beteken dit Die Pos het kop opgetel ná die verskriklikste jaar denkbaar vir ’n kleinsakeonderneming op die platteland. Klein is ons gewis.

Foto: britannica.com

Ons blaf nie saam met die groot honde nie, maar ons hart is gróót.

Ons is ’n gemeenskapskoerant van bykans 40 jaar oud wat omgee vir ons Bosvelddorpe, skole, sakelui, liefdadigheidsinstansies, kerke en vir ons taal: Afrikaans.

Ons verskaf voltyds werk aan 18 mense. Ons grootste uitgawe is ons drukrekening, salarisse, belastings, huur, tegnologie en die verspreiding van ons koerante weekliks na meer as 120 punte (van Bela-Bela, Modimolle, Vaalwater, Mookgophong tot in Thabazimbi).

Ons het twee mense wat elke week duisende pamflette met die hand in elke koerant voeg, dit in pakkies opmaak en dan begin ons afgeleefde trokkie ry om af te lewer — dit neem ons twee volle dae om al die koerante afgelewer te kry!

Ons druk elke week dieselfde hoeveelheid koerante, dus sal ’n “sensasionele storie” nie beteken dat ons meer koerante verkoop en meer geld maak nie.

Dit neem tyd, geld, baie telefoonoproepe en baie alleen nagte (en vakansiedae soos Vryheidsdag) om die stories weekliks volledig en akkuraat by ons lesers te kry. Maar dit is danksy ons advertensies dat Die Pos voortbestaan.

My pleidooi is dus: Wees saam met ons bly oor advertensies in Die Pos.

Ons slaak ’n sug van verligting daaroor. Ons dank ons sterre. Ons jubel. Die platteland is uniek omdat “advertensies” eintlik vir ons ook “nuus” behoort te wees.

’n Mens lees die koerant met ’n ander oog wanneer jy sien watter sakeondernemings het hul deure oopgemaak, wie het bevordering gekry, watter aankondiging maak die munisipaliteite in hul kennisgewings, wie doen aansoek om likwidasie, waar is poste beskikbaar ensvoorts.

Op dié manier leer ons meer van ons dorpe en ervaar ons deernis met ander sakelui.

Ons sakeondernemings ondersteun ook graag mekaar se spesiale aanbiedings, want dit laat ons dorpe ekonomies groei.

En waar anders lees ’n mens daarvan as juis in jou plaaslike koerant?

Related Articles

Back to top button