BlogsOpinion

Hoofartikel: Elke man vir homself?

Soms voel dit asof leiers wêreldwyd hul mense vir die wolwe gooi en elke man werklikwaar nou net vir homself is.

’n Skoolkind is in Tennessee (Amerika) doodgeskiet nadat hy glo eerste op die polisie losgebrand het, maar in Sibasa (Limpopo) neem niemand kennis daarvan nie, want die 15-jarige Lufuno Mavhungu het haar eie lewe geneem nadat sy glo dieselfde dag by die skool aangerand is.

In Mogadisjoe (Somalië) ontbind die polisiehoof die parlement eensydig om wetgewers te verhoed om die president se ampstermyn te verleng, maar in Loopstraat (Kaapstad) praat niemand daaroor nie.

Hulle praat oor die 22-jarige vrou wat uit die tiende verdieping van die Pepperclub-hotel na haar dood geval het.

Photo: pexels

’n Reusebrand breek in St Petersburg (Rusland) uit en vernietig ’n geskiedkundige fabriek wat uit 1841 dateer, maar dit is die minste van inwoners van Phalaborwa (Limpopo) se probleme. Dáár moet sakelui hul winkels sluit en inwoners leef in vrees nadat betogers paaie met brandende voorwerpe versper het.

’n Amerikaner word vasgestrek nadat hy glo beplan het om Amazon se datasentrum in ’n bomaanval uit te wis, maar dit gaan ongemerk by die mense van Dunkeld-Wes (Johannesburg) verby, want dáár beslis ’n hof dat die groep van sowat 50 mense wat ’n multimiljoenrandhuis beset het, onwettig verwyder is en voorlopig mag terugkeer na dié eiendom.

Die Ever Given-vragskip het nog steeds nie die Suez-kanaal (Egipte) verlaat nie omdat honderde mense glo nog wag op vergoeding, maar die mense van Delmas (Mpumalanga) maak nie golfies daaroor nie, want dáár word ’n drie weke oue baba wat weens diarree in die hospitaal opgeneem is, se handjie glo weens hospitaalpersoneel se nalatigheid geamputeer.

Indië se Covid-19-infeksies het Brasilië verbygesteek, die Britse media slyp hul geelperstande vir Prins Philip se begrafnis en Aung San Suu Kyi, leier van Mianmar, is reeds langer as ’n maand in arres ná ’n bloedige staatsgreep.

Mense vlug van die Karibiese eiland St. Vincent nadat ’n vulkaan uitgebars het, 34 migrante verdrink in hul boot aan die kus van Djiboeti en mense sê hulle het nog nooit soveel geweld aanskou soos in Palma (Mosambiek) nie.

En soms — net soms — voel dit asof niemand meer omgee oor rampe op “ver” plekke nie. Asof die sendelinge nie meer soontoe gaan nie. Asof gebedslyste nie meer plek vir nóg name het nie.

Asof leiers wêreldwyd hul mense vir die wolwe gooi en elke man werklikwaar nou net vir homself is.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button