BlogsOpinion

Hoofartikel: Ons het almal ’n storie

Sommige wetenskaplikes glo die mens is bloot primate: soogdiere soos talle ander spesies op aarde. Maar wat maak ons dan anders?

Hoe is dit dat ons onsself anders sien as blote diere?

Die antwoord is eenvoudig — ons het stories. Ons weet waar ons vandaan kom, ons beplan ’n toekoms, ons leer uit die verlede en bou ons toekoms daarop.

Ons hoor stories en uit dié stories leer ons belangrike lesse wat ons in staat stel om “beter” mense te word.

Wanneer ’n mens klein is, word daar vir jou fabels vertel: stories soos die skilpad en die haas, waarin Esopus jou leer dat die spreekwoordelike agteros ook in die kraal kom en dat ’n mens nooit té selfversekerd moet wees nie.

Daar word vir ons verhale vertel van ontdekkingsreisigers soos Jan van Riebeeck wat in hierdie week 369 jaar gelede anker gegooi het op die strande van die Kaap van Goeie Hoop en ons word vertel dat dít is waar ons vandaan kom.

In Evolutionary Studies in Imaginative Culture sê Robyn Fivush dat ’n lewe sonder stories nie ’n lewe is nie. Dit het my laat wonder wat óns storie is.

Ons wat hier aan die voet van die Berg van Yster sit en ’n dag-tot-dag bestaan voer om kos op die tafel te hou.

Of kinders deur die skool te kry. Of jou luukse sportmotor se versekering te kan bekostig. Wat is ons storie?

Het jy al gewonder wat van daardie vrou geword het wat altyd op Sondagmiddae met haar hond aan ’n skelpienk leiband verby jou huis gestap het?

Het jy al gewonder hoekom oom Piet van die kafee altyd sê “hoe hanteer die lewe jou” pleks van die normale “hoe gaan dit?”

Hoekom het Sarie nooit getrou nie? Hoekom het Anton wat saam met jou op laerskool was nooit sy rugbyloopbaan verder gevoer nie? Hoe het die dorp ontstaan?

Hoekom is daar nie ’n boekwinkel in die dorp nie? Waar kom die groot klip wat bo in Van der Bijlstraat staan, vandaan?

Hoekom is daar nie meer monumente in die dorp nie? Dit is ons verantwoordelikheid om hierdie stories te vertel.

Dit is ons plig om meer met mekaar te deel, om meer met mekaar te praat, om meer stories te vertel.

Dít is hoe ons onsself onsterflik maak. Deel julle stories met ons en maak geskiedenis saam met Die Pos.

Related Articles

Back to top button