BlogsOpinion

Hoofartikel: April: Gekkemaand of weer begin?

Ons gaan weer die geleentheid kry om te fokus op die dinge wat die lewe die moeite werd maak: lag en liefde.

Mense het verlede jaar dié tyd wêreldwyd grappies gedeel oor hoe lank die jaar gevoel het; oor hoe stadig tyd skynbaar verbygaan wanneer ’n mens niks anders het om te doen as om jou hande (té) gereeld by die huis te was nie.

Vanjaar is egter heeltemal anders. In ’n oogwink het ons gevorder van Nuwejaarsvoornemens tot graadeentjies wat met oë vol trane (en verwondering) vir die eerste keer ’n skooltas op hul rug gelaai het. Toe ons ons oë uitvee, was dit April.

April: Die eerste tekens van herfs, die begin van die nuwe finansiële jaar vir sakeondernemings, die naderende skoolvakansie en natuurlik die sogenaamde “maand van gekke.”

Gekkedag word op 1 April wêreldwyd gevier — ’n dag waar volwassenes en kinders hul skanse laat sak en tyd maak om ’n bietjie verspot te wees, om mekaar te koggel en terg, om poetse te bak en om weer ’n slag saam met die mense om jou te skater van die lag.

Vanjaar gaan Suid-Afrikaners op Donderdag 1 April vir die eerste keer in 366 dae (want 2020 was om alles te kroon nog boonop ’n skrikkeljaar) weer die geleentheid kry om vir ’n dag van alles te vergeet en op pret te fokus. Ons gaan weer die geleentheid kry om te fokus op die dinge wat die lewe die moeite werd maak: lag en liefde.

Volgens oorlewering dateer Gekkedag uit 1582 toe die Franse vir die eerste keer van die Juliaanse kalender na die Gregoriaanse kalender oorgeskakel het. In die Juliaanse kalender het die nuwejaar met die lente-aandstond begin wat op 1 April plaasgevind het en nie in Januarie soos ons dit vandag ken nie.

Heelwat mense het egter nie die boodskap gekry nie en sommige agterosse het bloot net nie die kraal gehaal nie. Hierdie mense het toe die slagoffers geword van verskeie poetse en die bynaam poisson d’avril (April Visse, vernoem na die papiervisse wat om hul nek gehang is) gekry.

Ná ’n ongelooflike uitdagende 2020 moet ons onsself afvra wat ons hierdie jaar anders kan doen? Hoe ons, ten spyte van uitdagings, die beste van 2021 kan maak? Dink aan jou buurman of buurvrou, die kind wat elke oggend verby jou huis skool toe loop.

Dink aan jou dominee, aan die onderwysers en leerders wat moes leer aanpas by ’n chaotiese skooljaar.

Dink aan die tannie wat jy altyd in Spar raak geloop het voor haar man oorlede is aan Covid-19 en dink aan die kafee-eienaar wat sy winkel se deure moes sluit.

Dink aan jou en jou gesin en dink aan hoe jý die beste uit hierdie jaar sal kry.

Kom ons vat almal hande in Thabazimbi en pak die jaar lag-lag saam aan. Kom ons vernuwe, leer uit die verlede en bou daarop die sukses wat ons in 2021 wil bereik.

  • Die Pos-koerant het in Februarie sy vlerke gesprei en nesgeskop in Thabazimbi. FC Pelser is ons verteenwoordiger in dié pragtige Waterberg-dorp waar hy die gemeenskap leer ken en weekliks oor dié dorp se mense en hul wedervaringe berig.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button