BlogsOpinion

Hoofartikel: Saam bloei is saam groei

Ek dink die afgelope tyd met nostalgie terug aan die dae toe Die Pos-koerant gereeld na winkelopenings in ons dorpe genooi is.

As jong verslaggewer by Die Pos het ek menige lintknip-seremonies bygewoon, foto’s van blinkoog eienaars geneem en berigte geskryf oor nuwe winkelure, bestuurders en produkte.

Ons Waterberg-dorpe het ’n bloeitydperk beleef met jong, professionele gegradueerdes wat die platteland gekies het om praktyke te open, huise en sakegeboue te bou en hul kinders hier groot te maak.

 

Foto: freepik

 

Die afgelope paar jaar is dit opmerklik hoe munisipale verval en ’n hiëna-agtige regeringsbeleid kleinsakeondernemings se slagare toedruk.

’n Mens het ten minste watertoevoer en elektrisiteit nodig om sake te doen. En nie eens dít is deesdae gewaarborg nie. Die keiser gryp gulsig na dit wat hom beslis nié meer toekom nie.

Soos een briefskrywer dit vandeesweek in Die Pos stel: “Munisipaliteite moet belasting verdien en nie net invorder nie.” En tog.

Ons beleef dikwels hier by die koerant ook dinge wat ons moed gee; wat ons trots maak op ons sakegemeenskap en ’n nuwe geslag werkende jongmense.

Dit is vir ons een van die grootste vreugdes om te sien hoe kinders wat hier grootgeword en skoolgegaan het, nou die sakewêreld betree en hul plek in die gemeenskap volstaan.

Ons is so trots op “onse” kinders wat kom terugploeg in hul komvandaanplekke. Só word ek einde verlede jaar na ’n winkelopening van ’n klein, nuwe sakeonderneming in ons omgewing genooi.

Die pad was lank en swaar vir die ouerpaar wat die leisels aan hul kind oorhandig. Hulle tel hul kind spreekwoordelik op hul skouers, want as óns nie vir ons kinders sorg nie, wie sal?

Die klein straatjie voor die winkel is die aand vir verkeer gesluit. Daar hang liggies en vlaggies en musiek speel terwyl sakelui van die dorp en buurdorpe — soos springhase wat verblind is deur die lig — versigtig aanmeld vir die eerste klein feesgeleentheid ná die inperkingstyd.

“Ons moet mekaar se sakeondernemings seën,” pleit die vrou wat die bekendstelling van die nuwe winkel behartig. “Ons moet ons hande ophef na Bo en die Here se seën oor ons sakepersele afsmeek,” vra sy. “Ons moet soos Jabes van die Bybel vra dat ons grondgebied vergroot word.”

En om my steek vriende, familie en sakelui hul hande in die lug en vra dat hierdie kind se onderneming geseënd sal wees.

Hoe mooi is dit nie? En hoe kragtig en waar is hierdie vrou se woorde nie?

Dorpe wie se sakelui mekaar ondersteun en seën, is dorpe wat nie sommer sal doodbloei nie.

Related Articles

Back to top button