BlogsOpinion

Hoofartikel: Slinger-slinger straataf

Daar is nou ’n nuwe bestuurstyl wat daagliks opgemerk word. Die slinger-slinger-bestuurder wat dag en nag kruis en dwars oor die paaie ry.

Die meeste padverbruikers het al kennis gemaak met verskillende motorbestuurders soos dronkbestuurders, leerlingbestuurders en seniorbestuurders.

By nadere ondersoek is daar ’n hele klomp toevoegings tot hierdie lysie. Die selfoon-geplak-teen-die-oor-bestuurders kan gewoonlik maklik uitgeken word aan die afwesige gebruik van flikkerligte. Hoe interessanter die gesprek raak, hoe stadiger ry hulle.

Taxi-bestuurders het altyd reg van toegang en kan enige tyd skielik rem aanslaan om passasiers op- of af te laai. Enige hoek, gebou, boom of lamppaal kan dien as ’n bushalte.

Boelie-bestuurders gebruik hul oorgroot monster 4×4-bakkies as intimidasiewapens om vrees by kleiner motor se bestuurders in te boesem sodat die pad voor hulle oopgaan soos die Rooisee destyds voor Moses oopgegaan het.

Die ek-wil-my-luukse-motor-vir-almal-wys-bestuurders kan blykbaar net 40 km/h handhaaf terwyl hulle klipharde doef-doef musiek luister en selfies in hul duur ingevoerde ontwerpersklere neem. Hoofseun-bestuurders het die selfopgelegde taak om almal op hul foute te wys en sodoende eiehandig wet en orde op die paaie te handhaaf.

Die etende-drinkende-bestuurders se aandag word afgelei met wat ook al hulle op daardie oomblik eet of drink.

Hoewel slegs een hand nodig is om ’n koppie of kitskosversnapering vas te hou, bestaan daar ’n wesenlike risiko dat die kokende vloeistof op hul skote kan stort of die vulsel oor hul klere drup. Wanneer die onvermydelike wel gebeur, lyk die skreeuende-armswaaiende-bestuurder kompleet net soos wanneer ’n bloukopkoggelmander skielik op iemand se kop val.

Studente-skedonk-bestuurders is versigtig, want hulle is besig met intensiewe multitasking. Terwyl die bestuurder se linkerhand op die stuurwiel is, moet die regterhand keer dat die motordeur oopgaan (want die slot sluit lankal nie meer nie) of keer dat die syspieëltjie afval sodra daar oor ’n hobbel of deur ’n slaggat gery word.

Die haastige-mamma-op-pad-skool-toe-bestuurders is baie oplettend en kan teen 80 km/h (in ’n 60 km/h-sone) ’n verkeerskonstabel oor ’n afstand van 2 km raaksien.

Hulle kom hoofsaaklik voor in ’n 5 km radius om enige kleuter-, laer- of hoërskool. Maar daar is nou nóg ’n nuwe bestuurstyl wat daagliks opgemerk word. Die slinger-slinger-bestuurder wat dag en nag kruis en dwars oor die paaie ry.

Nie omdat hulle gekoring is nie, maar omdat hulle probeer om die slagveld van slaggate te vermy.

Ek het tot die gevolgtrekking gekom die enigste mense wat deesdae nog reguit padlangs ry, is die half-dronkes en half-blindes, want die res van ons ry maar slinger-slinger straataf.

Related Articles

Back to top button