BlogsOpinion

Hoofartikel: Verbode: Hard lag en huil

Dit is veral dié twee ongeskrewe reëls — moenie oormatig lag of huil by die werk nie — wat my finaal laat besef het hoe belaglik dié vreemde tye is waarin ons leef.

1So word Die Pos se personeellede ook — soos kantoorwerkers regoor die wêreld — verlede jaar gedwing om allerhande nuwe Covid-19-maatreëls by die werk toe te pas.

Ons temperatuur word soggens gemeet, ons vul ’n lang lys in om te verklaar dat ons geen Covid-19-simptome ondervind nie. Ons dra maskers in die oopplankantore en installeer ’n deursigte skerm waardeur die ontvangspersoneel kliënte moet bedien. Ons skuif tafels en stoele rond en sorg dat daar waar moontlik net een persoon per kantoor is. Elke dag is daar nuwe reëls.

 

Foto: freepik

 

Niemand mag meer onnodig in mekaar se kantore kuier nie. Moenie kollegas se kantoorruimte betree nie; staan regop in die deur en sê jou sê. Saniteer jou werkstasie self. Gebruik die kombuis so min as moontlik en as jy nou regtig vergaan van die dors, gebruik en was jou eie glas of koppie.

Ons is dankbaar vir geld, maar skielik gril almal vir vuil note. Plaas eerder elektronies oor, is die versoek. Trek handskoene aan as jy tel. Gooi die handskoene agterna weg en santiteer weer. Moenie aan mekaar se goed vat nie. Soggens sien ons vrees in mekaar se oë. Ons kry warm onder die maskers. Ons sukkel om ons sê te sê met gemaskerde lippe.

Meer as een Zoom-konferensie is om verskeie redes ’n flop. Dan, op ’n dag, is daar nog twee nieamptelike versoeke aan personeellede: Die twee wat nog altyd so hartlik en spoegspattend lag, moet asseblief hul lag inhou by die werk — veral wanneer hulle naby ander se werksoppervlaktes of rekenaars aan die skaterlag gaan.

Reduseer dit asseblief tot ’n innemende glimlag sonder om onnodig spoegdruppels te versprei. Nog een wat so dikwels die huilkrane oopdraai — oor goeie én slegte én gewone nuus — moet asseblief nie so hartlik huil op ander se skouers, by hul lessenaars en teenaan hul kantore se deurkosyne nie.

Dit lei tot ’n neusafveëry en snuiwery en neusblasery en nat vingers in ander se persoonlike ruimtes. Dit is veral dié twee ongeskrewe reëls — moenie oormatig lag of huil by die werk nie — wat my finaal laat besef het hoe belaglik dié vreemde tye is waarin ons leef. Hoe droewig? Hoe absoluut hartverskeurend: Moenie emosie wys nie. Moenie jou hart op jou mou dra nie. Hou die karaktereienskappe wat jou máák wie jy is, in toom. Want ewe skielik kan selfs jou lag of huil diegene om jou se lewens in gevaar stel.

En dié week, toe ek in my kantoor op die boonste verdieping sit en hoor hoe een van die laggers op die onderste verdieping ná maande se stilte onbedaarlik en kliphard aan die lag gaan, toe weet ek: Covid-19 se agterent. Ons sal huil en ons sal lag wanneer ons wil. Soms agter ons maskers waar niemand dit kan sien nie. Maar, ja, soms ook kliphard en luidkeels en oopbek en spoegspattend.

Ons het almal die afgelope jaar baie dinge verloor. Maar ons sal sowaar as wragtig nie ons lag verbeurd verklaar nie. Ons weier.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button