BlogsOpinion

Hoofartikel: Net die hoop wat bly

Geen kansvatters. Geen waarborg. Net die hoop wat bly: dis al.

Pieter het ondervinding in die saai- en beesbedryf. Hy is nie bang vir werk nie.

Hy het sy werk verloor en het ’n gesin om voor te sorg. Hy verkies om nie te trek nie, maar hy sal as dit moet. Johan is ’n dieselwerktuigkundige met meer as tien jaar ondervinding. Hy kén trekkers.

Hy wil net genoeg verdien om sy huishuur te betaal en na sy vrou, kind en skoonma om te sien. Stuur asseblief vir hom ’n boodskap.

Karen vra namens haar man. Hy is 25 jaar oud en het vyf jaar ondervinding as masjienoperateur en die oprig van elektriese heinings.

Hy, sy vrou en tweelingdogters gaan op straat beland as hy nie werk kry nie. Danie het 27 jaar ondervinding as terreinopsigter in die boubedryf. Hy is eerlik en betroubaar en het al aan groot projekte gewerk. Hy is dadelik beskikbaar.

 

Beyers het alles verloor en is bereid om enigiets te doen vir verblyf en ’n klein inkomste. Hy is nie bang vir werk nie. Hy gee ook nie om om op vakansiedae of laat ure te werk nie. Hy is bereid om te verhuis.

Shaun is 32 jaar oud en het drie jaar ondervinding as pomptegnikus en twee jaar ondervinding in elektriese werk. Hy het ’n kode 10-lisensie en is bereid om van onder af te begin. Hy is nie bang om vuil te word en met sy hande te werk nie. Hy het sy eie bakkie.

Heino is dringend op soek na werk in die wildbedryf. Hy is 19 en het kursusse gedoen in slanghantering, wildplaasbestuur, noodhulp, dierenoodhulp, die maak van boskos, wapenhantering en spoorsny.

Sonja vra ook namens haar man. Hy is 56 en het kennis van veevoer, meulens, slaghuisbestuur en hoenderboerdery, maar sal dankbaar wees vir enige ander werk.

Pieter, Johan, Karen, Danie, Beyers, Shaun, Heino en Sonja is verby die punt van versigtig voelers uitsteek of sagkens bid vir ’n wonderwerk. Hul gesigte, telefoonnommers en e-posadresse verskyn oral. Tussen die advertensies wat lui: Maak my ’n aanbod. Hoeveel is dit werd? Relocation Sale. Dringende verkoop. Vintage. Antiek. Versamelaarsitem. Reeds 150 jaar in familiebesit.

Help my met ’n kwotasie. Egte Paragon. Kom uit die Victoriaanse era. Puik toestand.

Royal Albert. Bone China. Beswick. Wade. Baie skaars. Dateer uit die Boereoorlog-era. Op St. Helena gemaak. Delft. Baie, baie oud. In die oorspronklike verpakking. Nog nooit gebruik nie. Handgeborduur. Benodig net ’n goeie skoonmaak. In Milaan vervaardig. Uiters bruikbaar. Slegs kontant.

Met daarby foto’s van pragtige ou staanhorlosies uit 1740. Verweerde houtkratte. Volledige eetserviese. Geliefde Singer-naaimasjiene. Silwer mansjetknope met swierige voorlettig op gegraveer. Gaargekapte houtbroodborde. Gebruikte leer Cowboystewels (uit Texas). Vernielde fotorame. Stukkende botterkarrings en onvolledige melkmasjiene. Lendelam tuinhekkies met swierige krulle en draaie. Ou wasbakproppe met die Spoorweg-embleem op.

Posgeld vir die koper.

Geen kansvatters. Geen waarborg. Net die hoop wat bly: dis al.

Related Articles

Back to top button