BlogsOpinion

Hoofartikel: Een dag op ’n slag

Dit is nie ’n grap om maande lank op hok te leef nie.

Tydens die eerste weke van die inperking was ek onverklaarbaar woedend vir diegene wat aanhoudend op sosiale media gespog het met hul kinders wat gemoedelik op die plase rondhol, die lang tafels onder die koeltebome wat kreun onder die kos, die helpers wat inwoon en die lowergroen grasperke en berge skottelgoed help hanteer.

 

Foto: freepik

 

Soos die tyd aangestap het, het ek diep bewus geword van my eie selfsug, want my dorpshuis-situasie was steeds hemels teenoor diegene in ’n sinkhuis, sonder lopende water, sonder kos en sonder enige vooruitsig op verbetering. Afstands- onderrig is steeds beter as geen onderrig. Stres by die werk is steeds beter as geen werk.

Verveling is steeds beter vir kinders as siek wees.

Nog later het my oorlewingsinstink ingeskop en “One Day at a Time, Sweet Jesus,” het my lewensmotto geword.

Ons moes almal leer om elke dag eerstens met dankbaar- heid te begroet. Eers héélwat later het humor ingetree. Want wat anders kan ’n mens tog doen as om die humor in hierdie vreemde tydperk in ons lewens raak te sien?

Ek het begin dink aan my eie grootwordhuis en gewonder hoe ons klompie van destyds dié tameletjie sou hanteer. As my ma gedreig het om haarself “uit rat uit te ruk”, het jy geweet jy moet fyntrap. My ouma, wat op dieselfde erf as ons gewoon het, was nie ’n maklike huismaat nie. Sy het gehou van fyn beplanning.

As iemand haar planne deurmekaar gekrap het, was die gort gaar. As haar kos nie presies om 18:00 gereed was nie, sou sy bel en sê: “Los maar, tog, ek bel eerder vir Meals on Wheels.”

As my ma nie nóú my ouma se bril in die dorp kon gaan afhaal nie, het sy haar vervies en gesug: “Ag los dit tog. Never you mind, Maureen!”

As die Huisgenoot laat was, was sy lus en bel die redakteur of verkla die kafee-eienaar.

My pa was die vreedsame een wat die gemoedere moes kalmeer en almal rustig hou. Play it cool and let things develop,” was sy lewensuitkyk.

Vandag — ná bykans ’n jaar van inperking — kan ek al glimlag oor ons hok-situasie, want die geskiedenis herhaal homself tog soms.

Daar is kort-kort iemand wat hom- of haarself uit rat uit wil ruk.

Daar is kort-kort een wat brom: “Los dit maar. Never you mind. Ek sal dit self doen.”

Ons planne word kort-kort omvergewerp en ons kan net mooi niks daaraan doen nie.

Al wat ons kan doen, is “to play it cool and let things develop”.

Daar was nog nooit ’n beter tyd as juis nou vir One day at a Time, Sweet Jesus nie.

Related Articles

Back to top button