BlogsOpinion

Hoofartikel: Wat ’n jaar!

Daar was géén inkomste nie, terwyl die uitgawes aanhou ophoop het.

Elke jaar wanneer ons die oorsig vir die Kerskoerant saamstel, staan ons vir ’n wyle stil by die afgelope jaar se groot stories, die goeie nuus en slegte nuus.

Om deur vanjaar se koerante te blaai, was ’n bonatuurlike ervaring. Dit was asof die onkunde, gevolg deur ongeloof, skok, woede, hartseer en trauma van hierdie verskriklike jaar ’n mens opnuut getref het.

Die verhaal van ’n niksvermoedende mensdom wat binne enkele weke tot ’n stilstand geruk is deur ’n onsigbare vyand het ook in ons koerantblaaie afgespeel.

Daar is niemand wat nié vanjaar getreur of verlies ervaar het nie. Hier in die koerantkantoor moes ons mekaar meer as ooit tevore moed inpraat, troos en ophelp, want ons klein Pos-familie is eintlik maar net ’n weerspieëling van ’n groter streek, provinsie, land, wêreld.

Die Pos moes vanjaar — vir die eerste keer in ons bykans 40-jarige bestaan — ons deure vir vyf weke toetrek. Die rolpers was stil. Ons verspreidingspunte toe. Daar was géén inkomste nie, terwyl die uitgawes aanhou ophoop het.

Ons moes foto’s neem, nuus insamel, ons gemeenskappe aanlyn ingelig hou en tussendeur ons eie tragedies verwerk: Die dood van geliefdes, die uitdagings van tuisonderrig, munisipale verval, finansiële teë- spoed, gesondheidsprobleme. Ons het in ongeloof toegekyk hoe koerante wêreldwyd hul deure sluit.

Hoe glanstydskrifte, wat huishoudelike name was, binne een week van die rakke gevee word. Hoe duisende joernaliste hul werk verloor. Ons was beangs. Ons harte het onbedaarlik aan die klop gegaan en soggens as ons saam die voordeur oopgesluit het, het die trane soms vryelik gevloei. En tog — hier is ons — maande later en ons staan. Nog nie regop nie, maar ons stáán.

Met dié uitgawe wil ons baie dankie sê vir elke adverteerder wat vanjaar ’n advertensie in die koerant geplaas (en betaal!) het. Ons weet nie wat ons sonder ons lojale ondersteuners sou doen nie. Dankie vir mense wat gebel het met wenke en aanmoediging.

Dankie vir elkeen wat R8 uitgehaal het om ’n koerant te koop. Dankie aan lesers wat ons harde werk raakgesien en ons hande hoog gehou het. As daar een ding is wat die pandemie ons geleer het, is dat daar nog plek vir gemeenskapskoerante is.

Waar anders sal die gemeenskap gebalanseerde, betroubare inligting kry — gestroop van sensasie en diepsteekwoorde? Wie anders sal inwoners kan bel as hulle absoluut géén antwoord of terugvoer van munisipale amptenare ontvang nie? Waar is ’n beter plek om saam hartseer of bly te wees oor ons mense se hartseer of vreugdes? Watter ander kleinsakeonderneming op die platteland kon in vanjaar se ekonomiese krisis steeds deurlopend inwoners bedag maak op ander se nood en op dié manier duisende rande vir liefdadigheid insamel?

Ons is nie “Die Media” nie. Ons is Die Pos — ’n klein sakeonderneming met ’n groot omgeehart vir die gemeenskap wat ons na die beste van ons vermoë probeer dien.

Mag die vreugde en die vrede wat alle verstand te bowe gaan met u elkeen in hierdie feestyd wees.

Related Articles

Back to top button