BlogsOpinion

Hoofartikel: Maak vas vir die reis!

Jy kan sien hoe ’n “dooie” beeld voor jou oë “lewendig” word.

Die jaar 2020 was vir baie mense die jaar van die “Groot Verandering”.

Daar is bykans niemand wat nié vanjaar aanpassings moes maak nie. Om te oorleef moes ons almal vernuwend begin dink.

 

 

Gedrukte koerante is wêreldwyd baie hard deur die Covid-19-pandemie getref. Gesoute joernaliste het hul werk verloor. Koerante wat dekades deel van mense se lewens was, het hul deure toegemaak. Miljoene verbruikers wêreldwyd het die boodskap hard en duidelik gestuur: Ons wil eerder “aanlyn” wees as “in die koerant”.

Wat maak ’n mens as jy besef die skrif is aan die muur vir die bedryf waarin jy jou brood en botter verdien? Skop jy vas en werk net harder? Gee jy moed op? Druk jy jou neus toe en spring in die yskoue water? Hier by Die Pos het ons ná maandelange beraadslaging besluit om braaf, dog katvoet, die nuwe tegnologiese era te omhels.

Ons gedrukte koerant — wat al bykans 40 jaar die topverkoperkoerant in die Waterberg is — sal steeds weekliks by meer as 100 verspreidingspunte beskikbaar wees. Vir Die Pos se adverteerders wag daar egter groot verrassings. Die Pos is gerat om seker te maak dat adverteerders voortaan ook aanlyn raakgesien word.

Een van die nuutste toevoegings tot ons koerant is die gebruik van die PixzAR-toep wat besig is om die Suid-Afrikaanse mediabedryf te oorrompel. Dit is maklik om te gebruik. Dit kan gratis afgelaai word. En die moontlikhede wat dit vir adverteerders inhou, is om die minste te sê: verstommend.

Hoe raak dit Die Pos se lesers en adverteerders? Die antwoord is maklik: Met PixzAR kan jy sien hoe ’n “dooie” beeld voor jou oë “lewendig” word.

Al wat jy moet doen, is om die toep op jou foon of tablet af te laai en te soek vir die PixzAR-blokkies in die koerant. As jy jou foon oor die blokkie hou, word die dooie skakel lewendig en neem dit jou na visuele inhoud.

Dink net: ’n Klein advertensie van ’n motorhandelaar neem jou virtueel op ’n rit om ’n resiesbaan. ’n Advertensie van ’n koffiewinkel neem jou na ’n barista wat ’n meesterstuk voorberei. Die artikel oor die Bosveld-interhoër lei jou na die finale aflos van die dag. Die moontlikhede is legio … En dink net, as jy nie wíl verander nie en steeds net elke Vrydag deur jou gedrukte koerant wil blaai, dan kan jy dit doen.

Die gedrukte koerant verander nie. Vir die res: Gaan laai PixzAR af en maak jou gordel vas vir die reis saam met Die Pos.

  • Doen ’n oefenlopie. Volg die instruksies op bl. 6. Blaai dan na die berig oor die munisipale klagtes wat aan die parlement gestuur kan word. Hou jou foon oor die PixzAR-blokkie en kyk wat gebeur.

Related Articles

Back to top button