BlogsOpinion

Hoofartikel: Waar is die skeidsregter?

Daar is géén genade nie: Jou idioot. Skiet hulle dood. Hoop hy vrek in die tronk. Gemors. Vuilgoed. En so gaan dit aan. Sonder ophou.

Ek glo aan die mag van die pen.

Aan die krag van woorde. Aan ou drukkersink en nuwe tegnologie.

 

 

Ek moedig mense aan om op hoogte te bly van nuusgebeure in hul omgewing.

Ek glo aan die rol wat ’n gemeenskapskoerant soos Die Pos speel. Maar soms knik ek ook instemmend as mense sê hulle lees nie meer koerante nie, het nie Facebook nie of volg nie meer die nuus nie.

Sekere mediaplatforms het in bokskryte ontaard sonder skeidsregters wat intree om bebloede slagoffers na veiligheid te help steier.

Soos nou onlangs onderaan ’n nuusberig waarin beweer word Prins Harry van Brittanje se Meghan is die mens wat die afgelope jaar die meeste ter wêreld aanlyn geboelie is. “Siestog, wie gee om?” vra ’n ene Bonita Kleynhans. Joey van Dyk reken: “Gaan vee jou traantjies met ’n dollarnoot af.”

Dieselfde geld berigte oor kinders wat in ongelukke sterf. Of mense wat deur diere aangeval word.

“Slegte ouers,” skryf iemand kort voor lank onderaan die berig — soms sonder dat hulle eens die berig deurgelees het. In ’n berig oor Rox-Zee Veldhuizen, ouddeelnemer aan die werklikheidsreeks Boer soek ’n Vrou, skryf ’n ene Janine Hofmeyr Pretorius: “Wie is die persoon in die artikel? Soos in, ek is nie sarkasties nie. Ek weet glad nie. Is sy belangrik of is dit ietsie wat ek gemis (sic) het?”

Jacoba Botha laat van haar hoor: “Die vrou is baie weird. Ons stel rerig (sic) nie in haar doen en late belang nie. Daai boer het ’n narrow escape gehad.” Daar is géén genade nie: Jou idioot. Skiet hulle dood. Hoop hy vrek in die tronk. Gemors. Vuilgoed. En so gaan dit aan. Sonder ophou.

Soms wonder ek oor mense soos Bonita Kleynhans en Joey van Dyk en Janine Hofmeyr Pretorius. Bestaan hulle regtig of is hulle trolle wat onder skuilname skryf? Het hulle troeteldiere? Sal hulle hul eie kinders kan vergewe en liefhê as dié ’n misdaad pleeg of met dwelms deurmekaar raak of ’n padongeluk veroorsaak? Huil hulle soms oor die wreedheid van die wêreld? Hoekom ontstel hulle hul so oor Rox-Zee en Megan en Karlien en Bobby en Britney. Ken hulle die mense?

Ek wonder ook hoekom vra mense soos Bonita en Joey en Janine altyd op sulke platforms wie iemand is as hulle duidelik weet wie dit is.

Maar die meeste van alles wonder ek: Waar is dié platforms se skeidsregters terwyl die bloed reeds lankal teen die verhoog af drup?

Related Articles

Back to top button