BlogsOpinion

Hoofartikel: Dankie Rocco!

Ek neem vir Rocco af waar hy Amazing Grace speel. Hy sit agter ’n groot, bruin vleuelklavier. Albei hande in die lug voordat hy die eerste note druk. Die video laat my ma huil.

In my ma se tagtigste jaar breek daar ’n wêreldwye pandemie uit.

Die hekke en deure na versorgingsoorde, aftreeoorde en ouetehuise word oornag dig toegetrek.

Geen familiekuiers. Geen jammer of koebaai by sterfbeddens. Geen nuwe babas in oupas en oumas se verlangende arms. Geen etes in die eetsaal, konserte, klubbyeenkomste of uitstappies na kwekerye.

“Ek sukkel,” laat weet my ma per WhatsApp — die enigste tegnologiese wonder wat sy onder die knie het. Ek neem ’n video met my selfoon van my tablet af van die pianis Rocco de Villiers. Hy sit in ’n uitgestrekte droë grasland en bespeel ’n blou klavier. Hy dra ’n wit kniebroek en flambojante blou baadjie. Sy linkerhand is hoog in die lug terwyl sy regterbeen ritimies tydhou. Hy staar verleidelik na die kamera en maak ’n 360° draai op die klavierstoeltjie. Daar skiet blou en oranje rook uit die gras op.

“Ek gaan ’n video aanstuur,” laat ek my ma teen die einde van die eerste week in afsondering weet. “Dit is nie ’n foto nie; al lyk dit soos een. Daar is ’n klein driehoekie op die prentjie. Druk daarop en dan sal ’n video begin speel. Kyk dit.” My ma is in ekstase.

Sy vra vir nog Rocco-video’s. Ek neem vir Rocco af waar hy Amazing Grace speel. Hy sit agter ’n groot, bruin vleuelklavier. Albei hande in die lug voordat hy die eerste note druk. Uitgedos in ’n pienk hemp, pers das, babablou baadjie, rooi langbroek en ’n geel blom so groot soos ’n piering op sy bors. Die video laat my ma huil. Ek stuur nou bykans elke dag ’n Rocco-video.

 

 

Vir Music Box Dancer kies hy ’n spookasempienk pak. ’n Ballerina uit ’n outydse juwelekissie draai al in die rondte.

Rocco kyk nét vir my ma terwyl hy speel.

“My lief, jy maak my mal met die man,” laat weet sy my. “Jy weet ek vloek nie, maar die lockdown laat my vloek. Ek gaan dit nou sê: Ek like vir Rocco. Hy is f ** goed. Het jy sy kuite gesien?” Later stuur sy: “Waar is my Rocco-video? Jy weet toe hy laas hier by ons opgetree het, het ek agterna die hele aand alleen gestaan en glase was. Dit was alles die moeite werd.”

Ag Rocco, ek sien jy het onlangs weer vir die eerste keer ná die inperkingstyd begin konserte hou. Ek is so bly vir jou.

Intussen: Dankie, dankie, dankie. En askies dat ek jou video’s met my selfoon afgeneem het. Ek weet dit is eintlik half onwettig, maar die inperking het ons almal byna van ons trollies af gehad. My ma sal nie die video’s (kan) aanstuur nie; sy weet nie hoe nie.

Wat sy wel na dese weet, is dat sy jou like. Sy like jou f-woord baie. En sy is nié een wat vloek nie.

Related Articles

Back to top button