BlogsOpinion

Hoofartikel: In die nuwe normaal

In die nuwe normaal herinner ons mekaar kort-kort daaraan om ons seëninge te tel.

In die nuwe normaal het ek nou ’n student — wat net-net vlerke begin sprei het — terug in die huis.

Die laaste keer toe die president gepraat het, het ek dikbek in my pienk japon in die kamer bly lê. “Kom! Die speech gaan begin,” het die student my kom aanskree.

Ek het geweier om op te staan en gesê ek boikot die toespraak. Ek is moeg daarvoor om elke week ingeroep te word na die hoof se kantoor toe. “Ag nee, kom-kom,” het die student gesê, “ons wil nie hierdie van ’n joernalis hoor nie.”

 

President Cyril Ramaphosa. Foto: bizhub

 

“Ek gaan nie kom nie! Los my uit!” het ek teëgepraat. En toe troef sy my met: “Goed dan, onthou net om onderaan ál Die Pos se berigte te skryf: Storie gebaseer op navorsing. Het nie self bygewoon nie …” En toe staan ek maar op en gaan luister na die toespraak. Agterna beskou kan ek nie eens mooi onthou watter van die talle toesprake dit was nie.

Of wat presies die nuwe reëls was wat daardie aand aangekondig is nie. Want iewers langs die pad het ek ophou omgee oor hoe laat ek mag skink of koop of kuier of ry of bly. In die nuwe normaal gryp ek soggens my masker, gaan kantoor toe en gaan weer 17:00 huis toe; reguit huis toe.

Ons kuier nie juis nie. As ons winkels toe gaan, is dit net om kos te koop. Die skole is dan oop, dan toe. Ons word nie juis iewers heen genooi nie en gaan ook nie juis iewers heen nie. Ons vier mylpaalverjaarsdae stil-stil. Die student het in Maart laas haar koshuiskamer gesien. In die nuwe normaal ken ons talle mense wat hul werke verloor het.

Mense wat noodgedwonge moes trek. Mense wat nie hul maandelikse verpligtinge kan nakom nie. Sakeondernemings wat bordjies opsit: Gesluit. Mense wat boodskappe stuur om te vra: “Is daar nog steeds organisasies wat kospakkies voorsien?”

Mense wat nie sterwende geliefdes kon groet nie. In die nuwe normaal sit plattelandse joernaliste soms met hul koppe in die hande by hul rekenaars en sug, want die strome klagtes van die publiek word daagliks meer: vullis wat nie verwyder word nie, riool wat opdam, grondgrype, haweloses in parke, geld wat gesteel word, die werkloosheidsversekeringsfonds se onvermoë, die gebrek aan toiletgeriewe, die verkeersafdeling wat (weer) toe is … In die nuwe normaal herinner ons mekaar kort-kort daaraan om ons seëninge te tel.

Om vir ’n slag weer hardop te lag. Om positief te bly. Om moed te hou. Om die pienk japon af te gooi en op te staan.

Related Articles

Back to top button