BlogsOpinion

Hoofartikel: Die nuus in die spieël

Soms voel ’n mens oorweldig in die negatiwiteit van die nuus. Die wêreld waarin ons leef, voel hopeloos en moedeloos.

Nog ’n moord.

Nog ’n roof.

Die gesteelde miljoene is steeds weg. Die ekonomie lyk beroerd.

Soms voel ’n mens oorweldig in die negatiwiteit van die nuus. Die wêreld waarin ons leef, voel hopeloos en moedeloos. Is dit die hele prentjie wat ons in koerante, op radio, televisie en sosiale media kry?

Wat is nuus? Die Mirriam-Webster-woordeboek verklaar dit as ’n verslag oor onlangse gebeure; iets wat ’n spesifieke invloed het; dit wat mens nie voorheen geweet het nie of iets wat ongewoon is — dit wat mense laat praat. Wanneer ’n hond ’n man byt, is dit nie noodwendig nuus nie, maar wanneer die man die hond byt, is dit wel.

Die nuus is dus nie ’n rekord van alle gebeure nie, maar ’n proeseltjie van hoe die daaglikse lewe is. ’n Spieël wat voor ’n gemeenskap opgehou word waarin hul doen en late weerkaats.

Alledaagse gebeure is nie altyd nuuswaardig nie; veral nie vir die nasionale media nie. Hulle fokus is die gebeure wat ’n impak op die groter deel van die bevolking het. Tog is dit juis die alledaagsheid in ons bestaan wat baie sê van wie en hoe ons is.

Goeie buurmanskap, vasbyt, hulpvaardigheid, ’n helpen- de hand aan swakkes, moed vir die toekoms.

Dit wat nuushooftrekke uitbasuin gee dus net ’n gedeelte van die prentjie. Die nuus is soos groente. Jy moet ’n wye verskeidenheid daarvan eet, dan is dit goed vir jou. Hoe wyer jy lees, hoe meer akkuraat is die prentjie.

Ons lees dié week dat Suid-Afrika moontlik teen 2030 as ’n gefaalde staat gesien kan word. In ’n ander nuusbron wys ’n gerekende ekonoom egter syfers wat aandui dat daar ’n belowende hersteltyd voorlê. Nie een berig is verkeerd nie. Dit is wel ’n spieël wat heen en weer gekantel word om ’n beter prentjie van die waarheid te gee. ’n Glasbal vir die toekoms het die media nie.

Die buffet van media is veel ryker as enkele dekades gelede. Tegnologie en sosiale media, slaggate en al, het die speelveld wyd gegooi.

Ongelukkig trek slegte nuus heelwat vinniger as goeie nuus.

Nuus, veral op plaaslike vlak, is ’n tweerigtingstraat. Joernaliste is deel van die gemeenskappe waaroor hulle berig en steun op inwoners om nuus te help uitwys. (Nuus aandra is nie altyd sleg nie.) Laat weet as daar goeie nuus is, dan kantel ons die spieël in al die rigtings.

Die mooi stories is daar. Kom ons gaan soek daarna.

Related Articles

Back to top button