BlogsOpinion

Hoofartikel: Die lewe is ’n bordspel

Ons was daardie mense wat vir drie dae lank enige huisskoonmakery naby die koffietafel verbied het sodat die bord onaangeraak kon bly tot die volgende dag.

Ek kom uit ’n familie van groot Monopoly-spelers.

Ons was daardie mense wat vir drie dae lank enige huisskoonmakery naby die koffietafel verbied het sodat die bord onaangeraak kon bly tot die volgende dag.

 

Foto: freepik

 

Daar was ’n paar slegte verloorders onder ons; dus kon ’n Monopoly-aand maklik buite beheer geraak en in ’n klein burgeroorlog ontaard het met iemand wat die bord omgooi.

Ek sal nou nie name noem nie — want vandag is ons almal steeds maats en het mekaar die sondes van die vaders vergewe — maar daar was eerlikwaar ’n paar groot kroeks om my kleintyd-bordspel: manne wat die bank besteel het, R100-note onder die tafeldoek versteek het, mekaar gehelp het om ’n ander een te sink en herhaaldelik “per ongeluk” verkeerd getel het.

Ek het nie juis omgegee om bankrot te speel nie, maar ek wou nie tronk toe gaan nie. Dit was vernederend.

En ek het blindelings woedend geraak as ek ’n kuller uitvang. “Wen my regverdig, maar moenie my kroek nie,” was my motto.

Daar was altyd diegene wat net in die ladida-eiendomme belang gestel het en ander wat gemeen het hoe meer hoe beter.

Dan was daar diegene wat telkens die bank wou wees. Met rede, natuurlik. Party was eintlik bloot net te saggeaard vir Monopoly. Dit was hulle wat altyd aan die geld leen was en gratis verblyf vir armlastiges in hul hotelle aangebied het. My pa was die gentleman van die spel.

Dit kon ’n mens reeds sien wanneer ons ons speelstukke aan die begin moes kies. Hy het altyd die hoed gekies, want, het hy gesê: “Met die hoed in die hand kom ’n mens deur die hele land.”

Niemand wou die strykyster wees nie. Die ou met die vingers in die bank het altyd die hond gekies. En as hy by ons strate verbyskuif sonder om te betaal, het sy hond dikwels been gelig teen ons hotelle.

Dit het my ook woedend gemaak. Jinne Pa, die lewe het ’n bordspel geword sedert Pa in Januarie 1992 laas saam met ons Monopoly gespeel het, dink ek nou een dag tydens die grendeltydperk toe ek die speletjieskas regpak.

’n Mens moet nog steeds heeltyd uitkyk vir hulle met die vingers in die bank en kort-kort die tafeldoek oplig om seker te maak daar lê nie versteekte note nie.

Diegene wat eintlik tronk toe, reg- uit tronk toe, moet gaan, is steeds dikwels diegene wat spreekwoordelik been teen ons hotelle lig en bloot by begin verbyskuif en R200 insamel.

Die strate het almal nuwe name gekry. Die stewel, vingerhoed en kruiwa is vervang met ’n pikkewyn, eend en dinosourus.

Die strykyster is lankal verwyder. Ek hou nog steeds nie daarvan om gekroek te word nie.

En daar is steeds mense wat dreig om die hele bord om te gooi as hulle nie hul sin kry nie. En daar is — tot my diepe droefnis — steeds nie baie mense wat die hoed-in-die-hand-filosofie aanhang nie.

Related Articles

Back to top button