BlogsOpinion

Hoofartikel: Jou dorp, jou verantwoordelikheid

Die kantlynkritici is egter bedrywig. Menings, klagtes en beledigings is daar in oorvloed. Maar daar waar daar gewerk word sien mense elke keer dieselfde gesigte.

Ons het probleme. Dinge vlot nie soos wat dit moet nie.

Daar is slaggate en watertekorte. Die strate is vuil en ons dorpe lyk verwaarloos. Hulporganisasies se geldsake klop nie. Spesiale skole en tehuise sukkel om hul deure oop te hou. Vol kollektebordjies en skoolfonds is skraps. Vergaderings se bywoning is swak.

Die kantlynkritici is egter bedrywig. Menings, klagtes en beledigings is daar in oorvloed. Maar daar waar daar gewerk word agter basaartafels, by opruimaksies, voedingskemas, in beheerliggame, kerkrade, jeuggroepe, raadsvergaderings, sakekamers en as vrywilligers by byeenkomste, sien mense elke keer dieselfde gesigte. Dié wat werk, werk oral.

As jou dorp se agteruitgang jou grief, is dit nie tyd dat ons verantwoordelikheid neem vir die plekke waar ons woon en werk nie? Is dit nie tyd dat ons skoon handjies verruil word vir moue oprol nie? Niemand is ’n eiland nie.

Die slaggat, waterlek en slordige sypaadjie is ook voor jou hek, lang toue en onvriendelike diens is ook jou voorland, ’n honger mens klop ook aan jou deur en jy kan óók hulp van die kerk of Kansa nodig kry. ’n Mening wat op Whatsapp gelig is, beteken nie “betrokkenheid” nie.

Konstante klagtes maak van jou ’n kermkous; nie ’n gemeenskapsleier nie. Dit is hier waar jy jou lewe slyt, vriende maak, jou kinders op skool is, jy ’n inkomste verdien of waar jy afgetree het. Dit is dus ’n baie belangrike plek vir jou. Verdien dit nie jou aandag en energie nie?

Ons sê maklik: ek het nie die ervaring nie; ek is nie opgelei nie; daar is beter kandidate. Tog het die proses van leer nie ’n vervaldatum nie. Hier is inwoners met soveel kennis en talente in ons midde wat ’n groot bydrae kan lewer. ’n Suksesvolle gemeenskap is ’n tweerigtingstraat tussen die besluitnemers en inwoners.

Hoe groter die betrokkenheid van inwoners, hoe meer balans bring dit. Verskillende benaderinge tot ’n probleem, bring beter moontlike oplossings na die tafel.

Daar is beslis voordele daaraan verbonde om betrokke te raak.

’n Mens vorm dieper verhoudings deur saam aan ’n probleem of projek te werk as net deur terloopse netwerk. Jou betrokkenheid bring jou dalk ’n vriendskap of sakegeleentheid of twee in die sak.

Staan op. Jou gemeenskap het jou nodig.

Related Articles

Back to top button