BlogsOpinion

Hoofartikel: Dis nie óns nie; dis húlle

Dit is bykans ongelooflik om te sien hoe dienslewering by plaaslike munisipaliteite landwyd verval.

Mense wat veilig in ’n landgoed in die stad woon, ervaar dit nie altyd so duidelik soos hier op die platteland nie. Hier ry ons almal op pad werk toe deur die riool, swenk uit vir die beeste in die pad, sien hoe die bome afgekap word. Ons weet presies waar die slaggate is en waar ’n mens jou neus moet toedruk.

Skokkender as die verval, is egter die traak-my-nie-agtigheid van die owerhede. Die Bela-Bela-munisipaliteit het ’n meesterlike manier ontwikkel om hulself te verontskuldig.

 

Foto: freepik

 

Wanneer inwoners kla oor slote wat voor hul huise gegrawe word en maande lank oop staan, is dit nie die munisipaliteit se skuld nie; dis die kontrakteurs s’n.

Wanneer palmbome op sypaadjies aan die brand gesteek word, is dit nie die munisipaliteit se probleem nie; dis die huiseienaar s’n.

Wanneer rondlopervee in die dorp wei, moet inwoners asseblief nie die munisipaliteit skakel nie. Hulle moet die polisie kontak. Of die skut. Of die verkeersafdeling. Of die dierebeskermingsvereniging. Nie die kliëntedienslyn nie.

As iemand kla oor ’n pad wat vol slaggate is, hoor Die Pos: “Nee, daardie stuk is nie ons s’n nie. Daardie stuk is die paaiedepartement se verantwoordelikheid.” Moet dit ook nie waag om dan te vra “waar eindig die munisipaliteit se pad en waar begin die paaiedepartement se pad?” nie. Dit is nie hulle probleem nie.

As daar grondbesettings binne die munisipale grense is, moet inwoners nie verwag dat die munisipaliteit moet optree nie. Daardie spesifieke stuk is iemand anders s’n. Wie s’n kan hulle nie presies sê nie, maar hulle weet spesifiek daardie stuk is nie op húlle bateregister nie.

As mense maande lank nie kan aansoek doen vir die aflê van leerlinglisensies nie, is dit nie die munisipaliteit se skuld nie. Dit is die werk wat opgehoop het tydens die inperking en die virus se skuld.

Dit is nie die munisipaliteit se skuld as al die inheemse bome by die Royal Northlands-gholfbaan gestroop word nie. Dit is die Maleisiërs wat die grond destyds by die munisipaliteit gekoop het se skuld. Dit is hulle grond. Maar dit kan ook munisipale grond wees. Niemand weet eintlik wie s’n dit is nie, maar ás dit die munisipaliteit se grond is, is dit nie hulle probleem nie. Bel die buurtwag. Of die belastingbetalersvereniging. Of die DA. Hulle moet help.

Dit is nie hulle skuld dat geboue in die dorp afbrand terwyl die brandweer ure laat opdaag of daar nie water in die brandkrane is nie. Dit is die waterdrukking in die dorp se skuld. Of die foutiewe koppelings s’n.

Dit is nie die munisipaliteit se probleem as rioolwater straataf loop nie. Dit is die boomwortels en die mense wat onwettige rioolaansluitings maak se skuld.

Sjoe. Dat ’n mens só baie bates kan besit, maar so ongeërg daaroor kan wees.

Related Articles

Back to top button