BlogsOpinion

Hoofartikel: Laat jou nie onderkry nie

’n Diamant blink meer nadat dit geslyp is.

Vanjaar sal onthou word as die jaar toe alles en niks tegelykertyd gebeur het.

Skole het tot ’n stilstand gekom. Sportvelde was leeg. Winkeldeure is toegetrek en die ekonomie het gedraal. Die strate was stil.

In teenstelling was medici en wetenskaplikes in ’n stryd gewikkel om ’n teenvoeter vir die gevreesde koronavirus (Covid-19) te vind. Regerings het geskarrel om hul bevolkings gevoed en gesond te hou. Amerika en China het ’n streep in die sand getrek en geluide van koue-oorlog gemaak. Mense het hul werke verloor en geskarrel vir ander inkomstebronne. Ouers moes tuis juffrou speel.

Onderwysers moes vinnig leer om aanlyn klasse aan te bied.

Dié woelinge laat ’n mens soos ’n klein dobberende bootjie op ’n onstuimige see voel. Hoe kon ’n mens hiervoor beplan of voorsiening maak?

Opstandige stemme kla luidkeels. Wat van ons vakansieplanne? Ek het staatgemaak op my bonus. Ek wou vanjaar uitblink in sport. Ek wou huis of motor koop. Ek wou, ek wou …

Ons is teleurgesteld en voel ingedoen. Ons mooigeboude lugkastele lê aan skerwe.

Die moeilike 2020 is ’n nederigmaker, sal mense vir jou sê. Die harde lesse van die pandemie is dat geld, status, talente, kleur, oortuigings en goeie eienskappe jou niks in die sak bring nie. Soos die Prediker sê: dieselfde lot tref almal.

Die virus het vanjaar soveel dinge by ons gesteel. Offer ons dalk vrywillig dinge op wat nooit eens in die slag hoef te gebly het nie? Ek hoor van iemand wat geld uit hul stokperdjie begin maak het. Ek sien hoe nog iemand in ’n behendige bemarker verander het. Daar is kinders wat hul probleemvakke tydens tuisskool baasraak. Daar is ouer inwoners wat tennis en gholf begin speel om uit die huis te kom. Daar is stappers wat drawwers word. Families wat sterk bande bou. Sakelui wat die groot digitale sprong maak. Boere wat nuwe markte ontsluit.

’n Diamant blink meer nadat dit geslyp is.

Ons elkeen het ’n gegewe tyd onder hierdie son. Moenie dit verspil nie. Maak seker dat jou 2020 nié die jaar is waarin niks gebeur het nie.

Related Articles

Back to top button