BlogsOpinion

Hoofartikel: Dankie tog vir ‘regte mense’

Dankie tog daar is mense wat in dié vreemde tyd ook in die “regte wêreld” leef.

Wat is ’n mooi Afrikaanse woord vir “kindness”?

Is naasteliefde, beleefdheid, minsaamheid, liefdevolheid, goedhartigheid of welwillendheid só treffend soos “kindness”? wonder ek soms.

“Goed so. Julle personeellede is in elk geval almal laks en julle produkte van swak gehalte.”

Só skryf ’n vrou op Facebook by die aanhoor van die nuus dat ’n groot winkelgroep sy deure sluit en honderde mense hul werke verloor.

Die vorige plasing op dié vrou se blad is ’n bemoedigende: “Stap die dag in met blymoedigheid en weet jy is onder beskerming van Ons Hemelse Tuinier.”

Oor die krisis in die restaurantbedryf laat iemand hoor: “Ek eet in elk geval lekkerder by my eie huis he-he-he. Gaan hulle nie mis nie.” Die berig vertel van duisende kelners, kroegmanne en restauranteienaars wat moedverlore voel.

Dié vrou is ’n diereliefhebber, verklap haar blad. Sy versprei foto’s van honde met hartseer oë wat op soek is na liefdvolle huismense.

“Nee wat, boikot die haarkappers,” verkonding ’n middeljarige vrou. In haar tuisdorp gee die haarkappers een vir een hul huurpersele op, smeek vir afslag op hul kinders se skoolfonds en maak tot middernag lapmaskers of bak koek.

“Vatso, julle wou mos net die oorsese mark bedien,” juig iemand op skrif terwyl lodges, hotelle, gastehuise en vakansieoorde se deure toe bly. Honderde werkers uit haar dorp loop smiddae hangskouer huis toe en weet nie wat môre inhou nie.

“Ag, ek koop lankal nie meer tydskrifte nie. Dit is te duur en daar is te veel advertensies in,” reken die vrou met die lang, vals naels en strepieshare onderaan die aankondiging van meer as 1 000 mense in die skryfbedryf wat binne enkele maande hul werke verloor het.

Sy is lief vir haar kleinkinders, verklap dié vrou se blad. Hulle is hul ouma se liefiekinders en sy verlang haar dood na hulle. Sy deel ook graag op haar blad aanlynadvertensies van produkte waarvan sy hou.

“Hoekom moet ek betaal om ’n koerant te lees? Julle versprei in elk geval die meeste van die tyd fopnuus,” verklaar die jong vrou met die twee peuters op haar profielfoto en deel terstond ’n foto van swane en dolfyne wat terug is in Venesië se waterstrate noudat al die mense agter slot en grendel is. Sy deel ook ’n foto van ’n kind wat weggeraak het, maar het nie gesien dit is ’n ou plasing van 2017 nie.

“Die grendeltyd raak ons gelukkig nie. Ons hou nie van mense nie; so ek gaan nie baie uit nie,” sê die vrou wat nie eens weet dat iemand in haar sekuriteitskompleks sy eie lewe geneem het nie.

Dit is nie haar probleem nie. Sy hou mos in elk geval nie van mense nie.

Dit is werklik asof “kindness” weggelaat is uit die Afrikaanse Sosiale Media Woordeskatkis. En dié leemte wys nou — tydens ’n wêreldpandemie — erger as ooit tevore tande.

Dankie tog daar is mense wat in dié vreemde tyd ook in die “regte wêreld” leef. Want dit is daar waar ’n mens nog steeds oorvloedige omgee, deernis, naasteliefde en opregte “kindness” die beste ervaar.

Related Articles

Back to top button