BlogsOpinion

Hoofartikel: Elke winter het ’n einde

’n Vriendin sê sy moet deesdae sit as sy nuus lees, want dit laat haar knieë bewe.

Pak jou tas. Een wat jou handig te pas kan kom op ’n moeilike, onbekende reis.

Benader dit soos ’n gereedskapskis en pak laaitjie vir laaitjie met dinge soos knypbektange, moersleutels, bloudraad, ’n MacGyver-mes en kabelbinders om probleme wat opduik op te los. Laai dit met deursettingsvermoë, deernis, kennis, aanpasbaarheid, blymoedigheid en geloof dat ook dié probleme ’n einde sal hê.

Die jaar 2020 het die wêreld in ’n vreemde, onverwagte wentelbaan gegooi.

Die waarskuwings is maande lank al in die lug dat ’n nuwe, ongekende era ingelui is. ’n Vriendin sê sy moet deesdae sit as sy nuus lees, want dit laat haar knieë bewe. Sprinkaanplae, brande, vloede, vreemde siektes, gerugte van oorloë. Ekonomieë wat soos ’n bokser wat ’n kophou gekry het op wankelrige knieë probeer regop staan.

Laat ons dan nou nie onkant gevang word as swaarkry kom klop nie. Soos die rugbyspeler weet dat ’n harde duikslag kom en die tennisspeler dat sy gedugte opponent hom êrens gaan verras met ’n kishou — wees voorbereid om die moeilikheid teen die voorkop te vat. Wees reg om weer op te staan.

Hoe kan ’n mens jouself voorberei? Kennis sterk jou hand. Lees en vra uit. Het jy jou dokter en apteek se kontaknommers byderhand? Ken jy die simptome? Het jy reeds basiese medikasie en kruideniersware as jy moet isoleer? Weet jy hoe om jou huismense veilig te hou al toets een van julle positief? Dit is moontlik.

Bou jou verhoudinge. Dit is moeiliker om alleen staande te bly as wanneer jy mense het wat jou steun. Wie sal vir jou aflewerings kan doen as jy moet isoleer of as jy goor voel? En as die skoen aan die ander voet is, hoe gaan jy jou medemens bystaan? Is jy reg om self ook in te spring en dié wat siek, werkloos of moedeloos is regop te hou?

Is jy reg om soos die wankelede bokser na links of regs te swenk as jou onderneming of werk geraak word? Aanpasbaarheid sal jou laat oorleef.

Pak onderin jou tas ook jou swemklere en jou partytjiehoed.

Die einde van een era lui ’n nuwe een in. As ons deur die swaar van 2020 gebeur het, sal ons die goeie tye weer met oop arms tegemoet kan hardloop.

Related Articles

Back to top button