BlogsOpinion

Hoofartikel: Tee met twee suikers, asseblief

Tipies mens smag ons nou juis na dit wat ons verbied word.

Voordat ’n ontstellende virus ons almal kom skrik maak het, was die siekte van ons tyd om “besig” te wees.

Vra enige huishouding met skoolgaande kinders: daar was bykans nooit af tyd om behoorlik tot stilstand te kom nie. ’n Mens was altyd op pad na die volgende plek. Skool, aktiwiteite, sport, kuier, winkel, werk, kerk. Herhaal. Die tyddief was ’n gemaklike besoeker in ons huise.

En opeens is dié malle gejaag tot ’n einde gedwing. Huis toe, het die land se baas gesê. Die mat (en ons ondersteuningstelsel) is onverwags onder ons uitgeruk. Ons leer ’n balanseertoertjie doen en is tegerlykertyd werknemer-oor-’n-afstand, ouer, eggenoot, juffrou, tuinier en huishulp … hoewel die dag steeds net 24 ure het.

Ons was ons eie wasgoed. Ons vee vloere. Ons stuur e-posse en maak telefoonoproepe. Ons skrop traliehekke met tandeborsels en bak brood. Ons lê groentetuine aan en bou legkaart saam met die kinders. Ons drink almal (kapoet) laatmiddag saam tee op die stoep. Ons haal weer asem. In jou agterkop du ’n vae herinnering aan jou eie vroeë kinderdae toe dinge rustiger was. Die werkslading nie noodwendig minder nie, maar die gerondjakker wel.

Vir baie gesinne het die veranderinge op dun nerwe gebeur met groot bekommernis oor inkomste, gesondheid en onderrig. Sou ons nie graag ’n kristalbal wou hê om net ’n vinnige kykie die toekoms in te kry nie? Dit sou die monsters wat ons snags in hierdie vreemde tyd rondjaag dalk kalmeer het.

Tussen die vier mure van huise het gesinslede mekaar weer leer ken — ten goede en ten kwade. Hier en daar het die grendeltyd die foutlyne in ons verhoudings uitgewys. Die dinge wat onder die oppervlak gebroei het, maar ons kon toesmeer met al die ander dinge waarmee ons onsself so bitter besig hou. Dit kon wag vir ’n ander dag.

Tipies mens smag ons nou juis na dit wat ons verbied word. O, om te kan kuier saam met die familie in die Kaap! Om te gaan stap totdat jou bene bewerig is. Om by ’n restaurant ’n tydsame glas wyn te geniet saam met ’n vriendin wat jy te min sien. Om jou longe lam te skree by ’n skolerugbywedstryd.

Die afgelope 80 plus dae se beperkte vryheid (met ekonomiese en gesondheidsgevare wat dreig) laat ’n mens nugter oor dinge besin. Ons het tyd gehad om ’n oudit van ons lewens te doen. Te weeg wat regtig vir ons belangrik is. Nou word die deure weer oopgegooi.

Laat ons hard werk. Maar nooit weer te besig raak vir tee op die stoep nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button