BlogsOpinion

Hoofartikel: Die virus word net al hoe groter …

Nou, ná amper twee maande, wonder ek self hoe groot dié virus werklik is.

Die dag nadat die eerste Covid- 19-geval in Suid-Afrika aangemeld is, het my huishulp se dogtertjie met groot oë saam met haar ma by die werk opgedaag.

Sy het met die nodige handgebare vir my vertel dat hulle die vorige aand die virus op TV gesien het. Dit was die “hele TV-skerm vol”, het sy vertel. En toe het sy haar vingers inmekaar gevleg, haar armpies in ’n groot sirkel bo haar kop gehou sodat ek kon sien hoe groot die virus régtig is.

 

Foto: pixabay

 

Ek het daardie oggend saam met haar by die eetkamertafel gaan sit en lank verduidelik dat die virus eintlik mikroskopies klein is. Ek het ’n kiwivrug oopgesny en na die swart pitjies in die vrug gewys. “Nog kleiner as dié swart pitjies,” het ek verduidelik.

Nou, ná amper twee maande, wonder ek self hoe groot dié virus werklik is.

Sedert die aanvang van die land se grendelstaat op 26 Maart het mense se huismure al nouer om hulle begin word en het die virus begin groei.

Met die verlenging van die grendelstaat vir ’n verdere twee weke het baie Suid-Afrikaners besef dat die somme wat gemaak is om hul eie geldsake, asook dié van hul sakeondernemings, te laat klop, skielik nie meer sin maak nie. En die virus het groter geraak.

En toe die skokbesef almal tref dat “vlak 4” maar eintlik net ’n verdere verlenging van die grendelstaat is, het die virus skielik so groot soos een van daardie geel Pac-Man-gesiggies in arkade-speletjies geraak. En dit vreet alles wat voorkom op.

Dit vreet die selfvertroue van mediese personeel op, want elke pasiënt kan ’n draer wees.

Dit vreet mense se salarisse op.

Dit vreet die wins van klein én groot sakeondernemings op.

Dit vreet mense se drome op — en in sommige gevalle selfs hul geloof.

En soos die Covid-19-statistiek daagliks klim en die dodetal styg, is die virus besig om so groot soos die aarde self te raak.

Soos ’n sneeubal rol dit oor landsgrense heen. Oor die woorde van arrogante politici, oor ekonomieë, oor samesweringsteorieë oor die voorspellings van slim akademici en oor die navorsingsresultate van medici.

Die virus, wat lankal nie meer mikroskopies in grootte is nie, rol en rol en rol en stoot alles plat “wat pronk en sieraad was … en vér was van die pyn”.

En ek wonder hoe sal ek die virus nóú aan my huishulp se dogtertjie verduidelik? Ek weet nie.

Ek weet net dat my woorde deesdae min is. Selfs in my gebede bid ek soos NP van Wyk Louw met gestroopte taal.

O Heer, laat hierdie dae heilig word:
…laat ryp word Heer, Laat U wind waai …

Related Articles

Back to top button