BlogsOpinion

Hoofartikel: Hoe kan ons help?

Tydens Die Pos se jaarlikse personeelopleiding op Saterdag 7 Maart is daar besluit op die koerant se jaartema: “Hoe kan ons help?”

Die huidige stand van dienslewering, of kliëntediens, in Suid-Afrika lyk oor die algemeen beroerd.

Daar gaan feitlik nie ’n week verby sonder dat daar nie ’n ontevrede inwoner by die koerant se kantore instap om te kla oor swak dienslewering nie.

In die verlede was hierdie klagtes hoofsaaklik beperk tot swak dienslewering deur plaaslike regerings, maar deesdae duik die name van sakeondernemings in die privaat sektor ook in dié klagtes op.

 

Foto: pexels

 

Hierdie toedrag van sake het Die Pos se bestuurspan genoop om ook hand in eie boesem te steek en te kyk hoe die koerant se kliëntediens opgeskerp kan word.

Tydens Die Pos se jaarlikse personeelopleiding op Saterdag 7 Maart is daar besluit op die koerant se jaartema: “Hoe kan ons help?”

Met dié tema hoop Die Pos se personeel dat hulle deur die loop van 2020 ’n verskil kan maak aan die omstandighede van inwoners, entrepreneurs, asook klein- en groot sakeondernemings.

Die koerantspan wil ook ander instansies en sakeondernemings in die Waterberg nooi om hierdie jaartema hul eie te maak.

Dit is nie nodig om uit te brei oor al die negatiwitiet wat Suid-Afrikaners deesdae omvou nie. Almal is bewus van die politieke en ekonomiese onsekerheid in die land. Dit is in die lig van hierdie onsekerheid nodig dat mense juis in die privaat sektor positiewe kliëntediens ervaar.

Kliënte is moeg daarvoor om in lang rye te staan, buitensporige pryse vir produkte en dienste te betaal en dan boonop deur ’n nors werknemer agter ’n toonbank gehelp te word.

Dit is dalk holrug gery, maar goeie kliëntediens begin werklik by vriendelikheid. Navorsingsresultate oor verbruikersgewoontes wat onlangs deur die Universiteit van Pretoria se departement verbruikerstudies bekend gemaak is, toon dat indien verbruikers se aanvanklike ervaring by ’n sakeonderneming positief is, hulle minder geneig is om te kla oor produkgehalte en pryse.

Natuurlik stop goeie kliëntediens nie by blote vriendelikheid nie. Dit beteken ook dat sakeondernemings bereid is om die ekstra myl vir kliënte te stap — selfs nadat ’n produk verkoop is.

Die frase “Hoe kan ek help?” behoort by sakeondernemings te begin en daarna sal dit hopelik na die groter gemeenskap uitkring.

Want deur mekaar se laste te dra, kan ons die ander laste ligter maak en sal dit moontlik wees om die silwer randjie, ten spyte van die politieke en ekonomiese donker wolke, te sien skyn.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button