BlogsOpinion

Hoofartikel: As Neil Diamond so sê, gaan dit ’n goeie dag wees

Die Neil Diamond CD, wat al amper vyf jaar in die bloue se radio vassit en oor en oor dieselfde liedjies speel, dra daartoe by dat ek innig voel. Dat ek mense voor my laat inry en inloop.

Soms voel ek uiters innig en wys ek by al die stopstrate vir die ander bestuurders om gerus voor my in te draai.

Op die S-draaipad buite Modimolle op pad Vaalwater toe, draai ek die venster oop en kyk gelate buitentoe terwyl ek aanvaar dat die rye vragmotors voor my — nes ek — net mooi vir die klein stukkie dubbelpad gewag het voordat hulle mekaar teen ’n slakkepas begin verbysteek sodat niemand anders kan verbykom nie.

 

Foto verskaf.

 

Ook by die uitgang van die Bosveld Pick n Pay-sentrum in Bela-Bela (’n argitektoniese ramp as daar al ooit een was) wys ek gemoedelik vir voetgangers met swaar pakkies op hul koppe en in hul arms om gerus voor my verby te loop op pad na die taxi-staanplek toe. Dan word ek beloon met breë glimlagte en vriendelike kopknikke en almal voel lekker.

Op sulke dae lees ek die kommentare op die Facebook-blad #Imstaying en stem kopknikkend saam dat ons almal net hier wil bly.

Op ander dae weer, spoeg my oë vuurtonge na die bestuurders wat aan die linkerkant op die padreserwes klippe opskiet. Ek hou aspris effe té links sodat die kansvatters nie maklik kan verbykom nie. Ek wys wit oogbolle vir diegene wat so lelik beduie.

Op sulke dae lees ek #Imstaying se inskrywings en dink: Wat het ons hier? Iemand wat net hul eie goeie dade aan die groot klok wil hang? Wie op aarde doen ’n goeie daad en vertel dan vir almal daarvan op Facebook?

Maar dan skaam ek my weer die volgende oggend oor my gedrag wanneer ek in die ou Ford F100 werk toe ry. Dieselfde jaar model as ek. So bykans 50 jaar.

As ek die bloue “dryf”, draai ek die vensters af, want daar is nie lugversorging nie. Ek wys vir ander om gerus voor my in te draai, want ekself is nie besonder rats agter sy stuur nie. Ek kan hom nie met hoëhakskoene bestuur nie, want ek moet soos ’n wafferse orrelis met die voete ook ligte aansit en op die remme staan om betyds tot stilstand te kom. Ek moet afbuk om ruitveërs se knoppe by te kom. Ek voel effe lomp en “uitgeswel van lyf”, soos Breyten eens gedig het. Ek ry stadig en waai en almal waai terug. Soos dit hoort.

En die Neil Diamond CD, wat al amper vyf jaar in die bloue se radio vassit en oor en oor dieselfde liedjies speel, dra daartoe by dat ek innig voel. Dat ek mense voor my laat inry en inloop. En na die omgewing kyk en dinge waardeer. Want wie kan nou nié tevrede voel nie wanneer jou gunstelingsanger by herhaling vir jou sing:

I got worries by the ton
Gettin’ cancer’s only one
Overtaxed and alimonied
Tired of eatin’ fried baloney
I got burdens on my shoulders
Dying young or growin’ older
There’s some brain cells I’m missin’
But despite it all, I’d like to say

I’m gonna have a good day today
Gonna have a good time anyway
Put it all behind me, lay it all away
Gonna be a good day today.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button