BlogsOpinion

Hoofartikel: Sakelui moet mekaar ondersteun

Die afgelope ruk hoor en ervaar ons egter net té veel stories oor skelmstreke waaroor ’n mens om verskeie redes nie altyd kan skryf nie.

My gesin het ’n spreekwoord waarmee ons mekaar soms spot.

“Don’t be a Gupta,” waarsku ons mekaar as ’n skelm paadjie aanlokliker begin lyk as die regte pad.

Hier by die koerant hoor ons hartverskeurende stories, bitsige beskuldigings, leuens, waarheid — noem maar op. En soms moet ’n mens die wysheid van Salomo hê om die kaf van die koring te skei.

 

Foto: pexels

 

Ons beskou nie skinderstories as nuus nie. Sonde met die bure is nie voorbladnuus nie. Ons is nie daarop uit om mense te beledig of in die verleentheid te bring nie. Ons mislei nie ons lesers met sensasionele plakkate om die koerant te koop nie. Ons laat ook nie bitsigheid en spekulasie op ons sosiale mediabladsye toe nie. Ons het selfs die nodige stellings aangebring sodat die publiek nie kommentaar op van ons berigte kan lewer nie.

Koerantmense weet dikwels wat die storie ágter die storie is, maar mag dit nie sommer goedsmoeds skryf nie. Daar is ’n groot verskil tussen onwettig en oneties en Die Pos verkies om met ons skryfwerk binne die wet én eties verantwoordbaar te bly.

Die afgelope ruk hoor en ervaar ons egter net té veel stories oor skelmstreke waaroor ’n mens om verskeie redes nie altyd kan skryf nie. Miskien het dit tog tyd geword dat sakelui so ’n bietjie informeel met mekaar kuier en mekaar oor-en-weer waarsku. Want as een plattelandse onderneming deur ’n skelm gepootjie is, is die moontlikheid groot dat daar nóg is wat in dieselfde slaggat getrap het of gaan trap.

Soos groot regeringsinstansies wat in restaurante of gastehuise instap, hulself volstop, en vertrek sonder om die rekening te vereffen. En dan ’n dreigende houding inneem omdat hulle dit nie “op rekening” kan plaas nie.

Of soos groot regeringsinstansies wat kleinsakeondernemings vir maande lank derduisende rande skuld vir dienste gelewer, maar elke maand ’n ander storie het oor hoekom ’n betaling nie gedoen word nie.

Of soos vername sakemanne wat weke lank hul stomme personeellede voorstoot met jokstories oor hoekom hul maatskappy se rekening agterstallig is.

Of stories oor watter toetsbeamptes lisensies uitreik wanneer daar “toevallig” ’n paar geldnote op die paneelbord lê. Of oor bruin koeverte wat hande wissel voordat groot
transaksies goedgekeur word.

Klein sakeondernemings op die platteland trek swaar. Niemand kan bekostig om nou ingeloop te word nie. Kom ons staan saam en help mekaar. Waarsku mekaar waar nodig. En hou jou eie kant skoon.
Komaan, “don’t be a Gupta!”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button