BlogsOpinion

Hoofartikel: Ons elkeen se kind

Die wete dat dit enigeen van ons se kind kon wees, het op ons almal se harte gelê.

Daar is ’n wysheid wat lui dat dit ’n dorp vat om ’n kind groot te maak. Maar dit vat ook ’n dorp om ’n gesin by te staan in tyd van nood.

Toe die agtjarige Arno Swart op Vrydagmiddag 31 Januarie ernstig beseer is nadat hy op sy fiets raakgery is, het inwoners van Modimolle hande uitgesteek om hom by te staan. Arno is per helikopter na ’n hospitaal geneem maar die lig in die lewenslustige blondekoppie se ogies is drie dae later gedoof.

Sonder die ondersteuning van die mense om hulle, die spreekwoordelike “dorp”, is die pad vorentoe vir sy ouers, en elke ouerpaar wat ’n kind aan die dood moes afstaan, bykans ’n onbegonne taak. Die las is oorweldigend groot om te dra.

Hulle dra egter nie alleen aan die seer nie. Die mense om hulle, selfs onbekendes, dra elkeen saam aan ’n deeltjie van die verslaentheid, skok en hartseer.

Die trane het dié week vryelik gevloei. Ook groot mans het gehuil. Dit is veral die ouers van laerskoolkinders wat hard getref is deur Arno se dood — die wete dat dit enigeen van ons se kind kon wees, het op ons almal se harte gelê. Ook die wete dat enigeen van ons agter die stuur van die voertuig kon wees wat hom raakgery het.

Elke hand wat op daardie noodlottige Vrydagmiddag uitgereik het om Arno te help dra ambulans toe, was ’n hand van iemand wat op daardie oomblik ingestaan het as pa. Elke vrou wat ’n traan afgevee het — haar eie of dié van iemand langs haar — was op daardie stadium Arno se ma. Elkeen het geweet as die noodlot anders beskik het, was dit ons kind.

Gemeenskappe is op hul sterkste wanneer hulle saamstaan. Sibbie Swart, Arno se ma, skryf op Facebook:
“dankie vir die miljoene gebede wat julle vir ons en namens ons gedoen het…”

Ek glo haar syfers is reg. Nie net oumas en oupas en kleuters het Arno en sy ouers tot voor die deur van God gebring nie, maar ook vreemdelinge. Dié gebede dra nie ’n vervaldatum nie. Dit sal hul vergesel tot die einde van hul dae.

Related Articles

Back to top button