BlogsOpinion

Hoofartikel: Minder teëspoed en meer genade

So hoe oorleef ’n mens ’n ekonomiese knyptang?

Volgens Bill Bryson, topverkoper Amerikaanse skrywer van reis- en akademiese boeke, is daar net drie dinge wat ’n ware boer kan doodmaak: weerlig, ’n trekkerongeluk en ouderdom.

Daar steek baie waarheid in dié tong-in-die-kies opmerking.

 

 

Suid-Afrikaners het net ’n ander weergawe daarvan: ’n boer maak ’n plan. Ondanks dinge soos misdaad, droogtes, beurtkrag, grondonteiening, arbeidsonsekerheid en onsimpatieke owerhede, maak ons almal (nie net landbouers nie) planne dat dit klap.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie is táái. Ons het nie ’n kenner nodig om dit vir ons te vertel nie. Van die superrykes wat oornag derduisende rande in die Steinhoff-skandaal verloor het tot diegene wat nie weet waar die volgende bord kos vandaan kom nie, weet dit.

Mense kry swaar; ook hier in die platteland. Verál dalk hier in die platteland.

’n Mens hoor gereeld van winkels wat hul deure sluit, broodwinners wat hul werk verloor, die bank wat iemand se huis terugneem, skole wat skaars kop bo water hou omdat ouers nie skoolfonds betaal nie. Deesdae ook al hoe meer: Mense wat nie meer huiswerkers of tuiniers kan bekostig nie. Diereliefhebbers wat om geldelik redes nie hul troeteldiere na behore kan versorg of ouers wat nie hul siek kinders dokter toe kan neem nie.

Maar voordat swaarmoedigheid ’n mens so vroeg in die jaar oorval, is dit nodig om weer vir mekaar te sê: Ons is nie ’n nasie wat moed opgee nie. Ons voorouers het gewéét wat harde werk is. As daar een nasie is wat weet hoe dit voel om bloedneus in die grond te lê en waaragtig uit die as op te staan, is dit Suid-Afrikaners. En dan het ons boonop ’n humorsin wat maak dat ons deur eeue al ons swaarkry met lekkerkry klaarkry.

So hoe oorleef ’n mens ’n ekonomiese knyptang? Volgens die kenners maak jy planne. Jy praat met jou huismense oor besparings. Jy probeer uitgawes beperk en kontant inbring. Jy betaal jou skuld. En ás jy gelukkig genoeg is om ’n werk te hê, dan probeer jy om die beste werker te wees wat jy kan wees. Jy probeer ietsie spaar; al is dit hóé min. Maar die belangrikste van alles: Jy geniet die lewe.

As ek net een ding hierby kan voeg, sal dit wees: Hou aan om die eerbare weg te volg. Moenie skelm raak omdat dinge warm raak nie. Eendag as dit weer beter gaan, gaan mense jou karakter onthou.
Die Pos wens met dié uitgawe ons lesers ’n voorspoedige 2020 toe. Mag die spreekwoordelike silwer randjie kop uitsteek. Mag die teëspoed min wees en die genades baie.

Related Articles

Back to top button