BlogsOpinion

Hoofartikel: Voetspore vol hoop

My wens vir 2020 is dat aardbewoners vir die aarde sal begin instaan.

Die OvaHimba (enkelvoud: OmuHimba) is ’n semi-nomadiese bevolkingsgroep van ongeveer 50 000 mense wat in die noordelike deel van Namibië, beter bekend as Kaokoland, woon.

Die vroue dra nog tradisionele klere en juwele en smeer daagliks hul lywe met ’n mengsel van rooi oksied en vet. Lewende kunsbeelde wat veral deur buitelandse fotograwe afgeneem word.

Ek en manlief het in Desember deur dié deel van Namibië getoer en eerstehands met die OvaHimba kennis gemaak. Vreedsame veeboere wat nog hul huise uit houtpale en modder bou en net hul beddegoed van pels in ’n bondeltjie saamvat as hulle na “groener” weivelde trek.

 

Foto: momoafrica

 

Hulle laat werklik net hul voetspore in die natuur agter, want die natuurlike produkte waaruit hul huise en krale gebou word, word ná ’n ruk weer een met die aarde se stof. Selfs hul eetgerei word uit hout gekerf om die aarde tegemoet te kom.

Die OvaHimba met hul eenvoudige leefstyl het dalk meer wysheid in pag as waaroor die meeste aardbewoners beskik. Hulle weet dat die aarde soos ’n kleinood opgepas moet word.

Dit, terwyl ’n groot deel van die mensdom met hul moderne tegnologie, hul kapitalistiese stelsels en sogenaamde “beskaafde” lewenstyl besig is om die hart van die aarde stukkie vir stukkie uit te sny.

Dit was nie net die woorde van die bekende popgroep uit die 90’s se “We wish you a merry Christmas” wat in die groter dorpies in Namibië uit die winkels geborrel het en op die langpad in my kop herhaal het nie. Ek het ook vir die half vergete woorde van dié groep se “We kill the world” in my kop gaan delf:
I see mushrooms, atomic mushrooms.
I see rockets, missiles in the sky.
Day by day, more and more,
Where will this lead to
And what is this good for?
Poor world, poor world.

Ek het daar in die berge in Kaokoland, terwyl Australië brand en die spanning in die Midde-Ooste aan’t oplaai was, gehoop dat dit die wêreld se nuwejaarvoorneme sal wees om soos die OvaHimba te poog om eenvoudiger te leef en ’n ligter voetspoor te laat.

Blykbaar is dit nie die wens van wêreldleiers nie. Maar dit verhoed nie die man op straat om eenvoudiger te leef nie.

My wens vir 2020 is dat aardbewoners vir die aarde sal begin instaan. Dat ons minder sal verbruik, ’n onnodige rit in ’n voertuig sal herbedink, waterwys sal leef, minder sal staatmaak op elektriese toebehore en meer tyd in die natuur sal spandeer — waar ons net ons voetspore sal laat.

Related Articles

Back to top button