BlogsOpinion

Hoofartikel: Films sonder ouderdomsbeperking

“Ek fliek nie weer saam met jou nie. Nooit weer nie.”

Daar is sekere goed wat ek wens ek het nooit gesien nie.

Dit is dié dinge wat maak dat ek weet koerantwerk is nie regtig vir my nie en my laat droom van die dag dat ek nie meer altyd hoef te weet “wat is nuus?” nie.

 

Foto: all4women

 

Soos die video van die monstervrou by die kleuterskool wat net die arme kind bly slaan en slaan terwyl sy haar skel om ’n tafeltjie skoon te maak. Ook die video van die bebloede Dros-verkragter wat soos ’n besetene in die toilethokkie staan en skree. Of die hartverskeurende video van die Driehoek-kinders wat onder die sementblok vasgepen is.

Ek wens daar was maniere hoe ’n mens goed kon weet sonder dat dit nodig was om dit te síén. Want vanaand as ek in my bed lê, hou dié goed — wat aan koerantredakteurs landwyd gestuur word sodat hulle kan besluit of hulle dit met lesers wil deel of nie — aan speel in my kop.

En dan is daar gelukkig ander dinge wat ek weer en weer wil sien as ek my oë toemaak: Die dirigent wat vir die laaste keer voor haar koor gaan staan. Die lig wat deur die loodglasvenster op haar gesig val, haar opkyk na die boonsty ry en die een enkele traan wat eers in haar ooghoek opdam en dan oor haar wang, tot binne-in haar kraag, rol. Sonder dat sy dit wegvee.

Of die buierige tienerkind wat nie eintlik in die kerk wil wees nie, maar tog later liggies, dan al hoe harder, ritimies met sy vingers op die bank voor hom begin trommel terwyl die orkes voorgaan met: Ek sien in my gees die glorie en die almag van die Heer, die Allerhoogste wat in liefde oor Sy koninkryk regeer.

Of die meisietjie wat haar pa se oë toedruk om die afwagting nóg groter te maak toe sy bruid in die paadjie afkom. Die manier hoe die bruidegom se duim vryf-vryf-vryf oor sy bruid se vingers terwyl die dominee die huweliksformulier lees. Die boodskap van tweede kanse in die lug.

’n Mens het sekerlik ’n keuse oor die prentjies wat jy in jou kop toelaat.

Maar om in hierdie dae in die mediabedryf te wees, is nie aldag maklik nie. Die ongesensorde films, waarvoor géén ouderdomsbeperking help nie, raak net soms só oorweldigend dat ’n mens naar word in die mediateater. En wil uitstap en sê: “Ek fliek nie weer saam met jou nie. Nooit weer nie.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button