BlogsOpinion

Hoofartikel: Hou aan soek na die mooi

“Afrika is besig om my in te sluk,” ween ek oor my pizza.

Kort voor sonsak strompel ek en my gesin vaal van die stof by Una Pizza buite Modimolle in ná ’n naweek van ontbering op die land se paaie.

Eers via Cullinan om dringend in Pretoria uit te kom terwyl die N1-snelweg aan weerskante gesluit is. Teen middernag weer Limpopo toe en dan tot by Pont Drift naby die Botswana-grens. En terug.

“Seën hulle, seën hulle in oordaad,” mompel ek. Omdat hulle hierdie tyd van die naweek oop is. Omdat hulle kelners vriendelik en die pizza lekker is. Omdat hulle wyn en ys in oorvloed het.

 

Foto: archdaily.com

 

Ag, eintlik wil ek swyg oor die anargie wat ek daardie naweek beleef het. Ongeduldige taxi’s wat op die grond langs die teerpad verbyskiet; vloekvingers in die lug terwyl hulle voor by die tolhekke indruk. Stringe trokke wat aanhou om langs mekaar te ry sodat niemand kan verbykom nie. Rondlopervee. Slaggate. Aanhoudende toeters.

Ek lê verdrietig op Una se bont tafeldoek. Ek treur oor die nuwe band wat ek moet koop — met die komplimente van die Blouberg-munisipaliteit. Oor die powere tolhekbestuur. Oor die skokkende verval van die eens spoggerige raadsaal van die Mapungubwe Interpretive Centre — skaars sewe jaar gelede luisterryk geopen en aangewys as die wêreld se Argitektoniese Gebou van die Jaar.

Mapungubwe-wêrelderfenisgebied. Eens op ’n tyd my lieflingplek, my grootwordplek.

“Afrika is besig om my in te sluk,” ween ek oor my pizza.

My eetgenote het elkeen raad, want hulle ken my nie so nie.

“Mense moet ophou kla oor goed wat nie gaan verander nie,” reken een.

“Ek verstaan nie ons land nie,” meen nog een. “Hoekom hou almal aan om geld en tyd te bestee aan goed wat verby is? Wat van vorentoe gaan?”

“Nee, jý moet verander,” reken ’n ander een. “Druk ook voor in. Toet ook. Wees aggressief, anders gaan jy nooit voor uitkom nie.”

“Dis nie wie ek is nie,” protesteer ek. “Ek hou van reëls. Ek hou van dinge wat werk. Ek hou van skoon.”

“Ek voel nou sleg,” sê die een wat eers gesê het niks gaan verander nie. “Ek verander my mening,” sê sy: “Dis omdat almal dink hulle kan niks aan die situasie doen nie dat dit so gaan. Ons kán ’n verskil maak.”

Dis nie wie ek is, fluister ek daardie aand vir die dakwaaier.

Ek lei my gedagtes na die heiligheid van die droë Limpoporivier. Die geelgroen stamme van die koorsbome in die Limpopovallei. Die fyn blou kraletjies wat ons as kinders oral in die veld opgetel het. Die rotstekeninge en swempoele in die berge waarvan net ons geweet het. Die herinneringe aan my pa wat ons veld toe geneem het om te kyk hoe argeoloë besig is met hul opgrawings. Dít is wie ek is.

En al is ek die laaste een op die sinkende skip, sal ek nie middelvingerwysend voor by die tolhek indruk nie. Ek sal aanhou reis in hierdie land. Ek sal aanhou soek na die mooier, alternatiewe roetes.

Want dit is wie ek is.

Related Articles

Back to top button