BlogsOpinion

Hoofartikel: Sensasie se angel getrek

Meer dikwels, as soms, sal die feite in ’n berig heeltemal korrek wees, maar die feit dat die media dié feite gepubliseer het, maak mense woedend en dan speel hulle maklik die sensasiekitaar.

Die beskuldiging dat die media net stories vir “sensasie” skryf om “koerantverkope op te stoot”, is sekerlik die sambok waarmee Jan Alleman talle redaksiespanne die meeste bykom.

Soms is hierdie beskuldiging geregverdig, maar die redaksiespan van Die Pos het deur die jare gevind dat koerante en hul digitale platforms dikwels as sondebokke gebrandmerk word omdat mense nie daarvan hou as die waarheid in swart en wit verskyn nie.

 

Foto: freepik

 

Meer dikwels, as soms, sal die feite in ’n berig heeltemal korrek wees, maar die feit dat die media dié feite gepubliseer het, maak mense woedend en dan speel hulle maklik die sensasiekitaar.

’n Mens moet darem ook in gedagte hou dat koerante juis onderskei word van ander mediaplatforms soos advertensieblaaie en tydskrifte weens die feit dat hulle nie beeldpoetsers is nie, maar ’n spieëlbeeld van die samele-wing moet wees. En dié beeld is nie altyd blink nie.

Of mediahuise werklik net sensasie najaag, is natuurlik ’n debatsonderwerp in eie reg. In die geval van Die Pos maak die voorbladberig min of geen verskil aan die koerantverkope se syfers. Die Pos se lojale lesers koop weekliks getrou die koerant omdat hulle ingelig wil bly oor alle gebeure in hul gemeenskap — wat die slegte én goeie nuus en ongelukkig ook die misdaadnuus insluit.

Indien ’n sensasiedebat wel ter sprake sou wees, het die media die afgelope twee weke heel waarskynlik die eerste ronde gewen.

Die Pos se joernalis in Bela-Bela, Andries van der Heyde, het onlangs die mooiste storie geskryf oor ’n matriekseun van Hoërskool Warmbad wat sy oumagrootjie as metgesel na die Warries se matriekafskeid gevra het.

Dié artikel het in Die Pos se uitgawe van Vrydag 6 September verskyn en in dieselfde week op dié koerant se digitale platform gepryk. Die storie het daarna landwyd soos ’n veldbrand versprei en is deur verskeie nasionale mediahuise opgeraap en ook gepubliseer. Twee van die land se grootste dagblaaie het dit selfs op hul voorblaaie geplaas.

Daarmee het die media bewys dat hulle nie nét sensasie najaag nie. ’n Goedvoelstorie gryp beslis ook joernaliste én hul koerantbase se verbeelding aan.

Dit was vir Van der Heyde moontlik om dié storie eerste te kry (of soos hulle in koeranttaal sê: te “scoop”) omdat hy daagliks in sy gemeenskap werk en betrokke is. Dit was juis ’n leser se wenk wat Van der Heyde op dié mooi storie se spoor geplaas het.

Die Pos se gemeenskapbetrokkenheid is iets waarop die koerantspan besonder trots en voor dankbaar is. Lesers moet dus nie huiwer om die foon op te tel om ’n nuuswenk aan Die Pos deur te gee nie. Wie weet, dalk is dit dáárdie storie wat juis wýd gehoor moet word.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button