BlogsOpinion

Hoofartikel: Glasskoen pas toerismevoet

Indien die Suid-Afrikaanse regering nie die ekonomie regruk en misdaad vasvat nie, sal dié land nie die voorreg geniet om van dié toerismekoek te eet nie.

So saam met die aanbreek van die lente is dit in Suid-Afrika in September ook bewuswordingsmaand vir toerisme.

Dit is nodig om die kollig op toerisme te laat val, want dié bedryf word dikwels deur die regering én rolspelers in die ekonomie soos Aspoestertjie behandel.

 

Foto: freepik.com

 

Dit is jammer dat toerisme nie altyd na waarde geskat word nie, want wêreldwyd is dit een van die grootste en snelgroeiendste sektore.

Die Verenigde Nasies Wêreld-toerisme-organisasie (UNMTO) se hersiende langtermyn vooruitsig op toekomstige toerismeneigings toon dat dié bedryf wêreldwyd oor die volgende dekade jaarliks met 3% sal groei. Dit verteenwoordig ’n jaarlikse toename van 43 miljoen internasionale toeriste.

Indien die Suid-Afrikaanse regering nie die ekonomie regruk en misdaad vasvat nie, sal dié land nie die voorreg geniet om van dié toerismekoek te eet nie.

As daar darem ’n flou liggie in die land se toerismetonnel brand, is dit die feit dat die vereiste dat buitelandse toeriste in besit moet wees van ’n nie-verkorte geboortesertifikaat (unabridged) vir minderjarige kinders einde 2018 deur die department van binnelandse sake geskrap is. Hierdie regulasie wat in 2014 in werking getree het, het die bedryf ontsettend geknou.

Maar dit is nie net die plig van die regering om toerisme uit te bou nie. Dit is elke landsburger se plig.

Ook in die Waterberg behoort sakelui en inwoners hulself af te vra of hul dienste en produkte op standaard is, of hulle ingelig is om toeriste van raad oor die omgewing te voorsien en of toeriste sal wil terugkeer na die omgewing.

Die Waterberg beskik nie net oor van die bekendste vakansiebestemmings in Limpopo nie, maar volgens die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika (Phasa) word Limpopo, die Oos-Kaap en Noordwes as die voorste jagbestemmings in die land bestempel. En baie van hierdie jagplase is in die Waterberg geleë.

’n Studie wat deur prof. Peet van der Merwe van Toerisme Navorsing in Ekonomiese Omgewing en Gemeenskap (Trees) gedoen is, wys dat trofeejag in Suid-Afrika jaarliks sorg vir ’n ekonomiese inspuiting van R1,98 miljard.

’n Goudmyn wat volgens Phasa nog nie naastenby tot sy volle potensiaal ontgin is nie.

Met hierdie syfers in die hand is dit dalk tyd dat daar meer aandag en energie in die Waterberg geskenk word om Aspoestertjie van haar vaal toerismerokkie te stroop en te kroon as die ekonomiese prinses van dié landstreek.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button