BlogsOpinion

Hoofartikel: Wees tog maar sagkens met mekaar

Mense dra nie plakkate om hul nekke om te wys hulle het pyn nie, maar as ’n mens met ’n sagte oog kyk, sal jy die seer om jou raaksien.

Ek het onlangs ’n artikel met die titel “Everyone around you is grieving. Go easy,” deur John Pavlovitz gelees.

Die skrywer vertel daarin hoe hy op die dag van sy pa se dood piesangs in ’n kruidenierswinkel moes gaan koop. Kort-kort moes hy homself daaraan herinner: “Dit is gek. My pa is dood en hier is ek besig om piesangs te koop.”

 

Terwyl hy inkopies gedoen en die lewe om hom sy gang gegaan het, wou hy eintlik ’n plakkaat om sy nek dra wat lui: “My pa is pas dood. Wees sagkens met my.”

Tydens sy rouproses het hy onder die diepe besef gekom dat almal om hom eintlik in ’n mate verwond, uitgeput, treurend is: Ouers wat bekommerd is oor hul kinders se gesondheid of gemoedstoestand. Mense wie se huwelike op die rotse is. Mense wat rou oor verhoudings. Kinders wat op skool geboelie word. Tieners wat hoop verloor het. Mense wat ’n geliefde se dood herdenk. Families wat nie geldelik kop bo water hou nie. Enkelouers wat bitter min slaap kry.

Mense dra nie plakkate om hul nekke om te wys hulle het pyn nie, maar as ’n mens met ’n sagte oog kyk, sal jy die seer om jou raaksien.

Soms kom die seerste byt van die makste honde.

“Ek was ’n soldaat. Ek het oorlog gesien en beleef. Ek het donker paadjies in my lewe geloop,” vertel ’n predikant nou een dag van die kansel af, “maar ek het nog nooit my kop so hart gestamp as in die kerk nie. Ons maal mekaar fyn. Ons is genadeloos met mekaar,” sê die predikant.

Ons ervaar dit ook hier by die koerant: Mense huiwer nie om op openbare forums te sê wat hulle van ander dink nie:

“Die bruid is mooi, net jammer van haar lelike tatoeërmerk.”
“Die baba is mooi, net jammer die naam wat julle vir hom gekies het is so lelik.”
“Wat het jy gedink toe jy daardie uitrusting aangetrek het?”

Suid-Afrikaners is ’n gewonde nasie: werkloosheid, die ekonomiese knyptang, misdaad en die toestande op ons paaie skep ’n algehele gevoel van moedeloosheid. Werk word al hoe skaarser. Dienslewering al hoe swakker. Klipgooiery en protesoptogte al hoe meer. Hartsmense wyk uit na die buiteland.

En intussen is daar ’n groot groep Suid-Afrikaners wat nie wil, of dit kan bekostig, om te immigreer nie en wat op een of ander manier dinge hier moet laat uitwerk.

Dit is dalk ’n goeie begin om net bloot bewus te wees daarvan dat bykans almal om ons een of ander vorm van pyn beleef.

Wees dus maar sagkens met mekaar, soos Pavlovitz vra.

Related Articles

Back to top button