BlogsOpinion

Hoofartikel: Waar is die betowering?

Ek het amper meer vir die kindergesiggies gekyk as vir die narre, akrobate en sirkusdiere.

Die sirkus het onlangs ’n draai in Bela-Bela gemaak.

Ek het die stoute skoene aangetrek en my huishulp se kinders daarheen geneem. Daar is mos min dinge in die lewe wat soveel betowering na ’n kind se leefwêreld bring as ’n sirkus.

Ek het amper meer vir die kindergesiggies gekyk as vir die narre, akrobate en sirkusdiere. Kinders kan mos sonder perk of voorbehoud geniet. Hulle sien mos net ten dele.

 

My grootmensoog kyk ongelukkig, en sekerlik ook onvermydelik, anders na die lewe. Ek sien die sirkustent wat al dof gebak is deur die Afrika-son. Ek weet nie of ek my verbeel nie, maar die arena lyk kleiner as wat ek kan onthou. Dit is asof die sirkusdiere se afronding skort en die balanstou waarop die akrobaat moet balanseer darem baie laag van die grond gespan is. En toe die sweefstokakrobaat haar laaste buiging maak, vang my oog die plek aan haar kostuum waar die blinkers afgekom het en die skouerbandjie uitgerafel het.

Maar miskien verbeel ek my dit alles. Miskien het die blink vernislagie net ’n bietjie dowwer tydens die middagvertoning geskyn.

Ná die vertoning gaan laai ek die kinders af. Die voertuig skoppelmaai deur die slaggate in die pad. In die township moet ek plek-plek heeltemal van die teerpad afry omdat die smal grondpaadjie aan die kant ’n beter opsie blyk te wees. Die straatnaamborde is afgebreek en daar is feitlik nie ’n plek waar die vullis nie die veldpalet ontsier nie.

Terug in die sentrale sakekern is ’n robot in die hoofstraat buite werking. En toe ek in die woonbuurt inry, herinner die opgekapte sypaadjies my daaraan dat kontrakteurs al vir twee jaar besig is om nuwe waterpype te lê. Die dorpsparkie oorkant my huis se gras was jare gelede grasgroen en die kinderspeelrame was in helder kleure geverf. Nou lê die rommel orals en die konkavure van sluipslapers getuig van koue winternagte wat hulle in dié parkie moes ontbeer.

Die dorpshuise se tuine is verwaarloos, want daar geld streng waterbeperkings. Maar net om die volgende hoek stroom daar water uit ’n gebarste munisipale waterpyp — en die water loop al vir drie dae in die straat af.

Dit voel vir my asof ons land se vernislagie nie net dof skyn nie. Dit lyk vir my asof dit heeltemal afgedop het. Die betowering van ’n dorpsfontein wat eens gespuit het en van Kersfeesliggies in die strate wat eens gewerk het, het saam met ons demokrasie verdwyn. En in hierdie geval, dink ek, is dit nie my verbeelding nie.

Related Articles

Back to top button