BlogsOpinion

Hoofartikel: Wie regeer die land?

Vir ’n land wat op die afgrond van ’n ekonomiese krisis staan, is ’n regeringstelsel wat vanuit die howe bestuur word, bitter duur en uiters onnodig.

Suid-Afrika het ontaard in ’n regstaat.

’n Land waar politieke oorloë deesdae nié in die parlement en raadsale nie, maar in die howe gevoer word.

As daar vir Suid-Afrikaners darem één ligpunt is, is dit die feit dat die land se howe skynbaar nog bo verdenking is.

 

’n Mens kan ’n baie lang lys optrek van hoe Suid-Afrika se politieke strome se vloei deesdae deur die oppergesag van die reg bepaal word. Dié lys se beginpunt sal sekerlik die korrupsieaanklag-
te teen oudpres. Jacob Zuma wees wat tans in die hof draai. Die mees onlangse voorbeelde is die hofuitsprake teen die verslae en werkswyse van die land se Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkwebane. ’n Mens kan tereg sê dat die howe nou landsburgers moet beskerm teen die persoon wat veronderstel is om hulle belange te beskerm.

Vir ’n land wat op die afgrond van ’n ekonomiese krisis staan, is ’n regeringstelsel wat vanuit die howe bestuur word, bitter duur en uiters onnodig.

Dit is ook nie nét op nasionale regeringsvlak wat die howe besluite oor regeringsake moet neem nie. Daar is talle voorbeelde waar die korrupte bestuurstyl van plaaslike regeringsamptenare én raadslede op geen ander plek vasgevat word as in die land se howe nie.

Die Bela-Bela-munisipaliteit het onlangs bloedneus in die hof gekry oor die onregmatige kansellasie van ’n huurkontrak met Dikala Plant Hire. Dié munisipaliteit wou die aanvanklike hofuitspraak in die guns van Dikala in die appèlhof uitdaag, maar ’n volbank in die hooggeregshof het die appèlaansoek verwerp — met koste en rente en vir toekomstige verlies aan inkomste wat Dikala gely het.

Dit is slegte nuus vir ’n munisipaliteit wat reeds miljoene rande aan onder meer Eskom verskuldig is.

Die munisipaliteit se skynbaar onbevoegdheid om deurdagte besluite te neem en die draai in die hof gaan dié dorp se belastingbetalers volgens die munisipaliteit ongeveer R12 miljoen uit die sak jaag. En volgens die Bela-Bela Belastingbetalersforum (BBTF) is die totale bedrag wat die munisipaliteit uiteindelik sal moet opdok, selfs nóg groter.

En uiteindelik is dit dienslewering wat aan die pen ry. Geld wat vir laasgenoemde gebruik moet word, verdwyn in ’n see van onnodige uitgawes. ’n Mens kan maar net hoop dat korrupsie wel op dié wyse uit die weg geruim sal word en dat rasionele regeringsbestuur iewers in die toekoms weer in die land sal seëvier.

Related Articles

Back to top button