BlogsOpinion

Hoofartikel: Regering se onvermoë skep behuisingsnood

Terwyl niemand dan nou eintlik die eienaar van dié stuk grond is nie, het flukse “entrepreneurs” na bewering flink sake gedoen en links en regs grond aan armes “verkoop” en hulself op dié manier onwettig verryk.

Die Pos, en ook ander media in die land, berig gereeld oor onwettige grondgrype.

Onwettige plakkery en sinkhuise wat oornag soos paddastoele opskiet, het vir baie wettige grondeienaars in Suid-Afrika ’n nagmerrie geword.

 

Daar word gewoonlik groot gewag gemaak van die lewensgevaar, waardevermindering van eiendom, toename in misdaad en geraasbesoedeling wat met dié plakkerskampe gepaardgaan.

Die lot van die mense ín hierdie plekke, en die regering se absolute onvermoë om in Suid-Afrika se behuisingsnood te voorsien, word egter nie altyd belig nie.

Die penarie waarin bure én inwoners van die al groter wordende Tsakane-nedersetting buite Bela-Bela (op die Eersbewoond-pad) hulle bevind, kan direk voor die deur van die regerende party gelê word.

Terwyl die Bela-Bela-munisipaliteit en die Waterberg-distriksmunisipaliteit duidelik nie mooi kan besluit wie se verantwoordelikheid dié stuk grond nou eintlik is nie, het ’n hele “dorp” intussen ontstaan sonder dat ’n enkele dokument vir dorpstigting of hersonering blykbaar ingedien is. En terwyl niemand dan nou eintlik die eienaar van dié stuk grond is nie, het flukse “entrepreneurs” na bewering flink sake gedoen en links en regs grond aan armes “verkoop” en hulself op dié manier onwettig verryk. En dan word daar ook sommer gratis water en krag aan dié nedersetting-sonder-wettige-eienaar verskaf.

Wat sal gebeur as elke ontwikkelaar in die land net begin ontwikkel op oop grond sonder enige goedkeuring, toestemming of die nodige infrastruktuur?

Suid-Afrikaners verdien álmal menswaardigheid, ’n leefbare woonplek en kos op die tafel. Die regering tas egter in die duister rond, of is gewoon net te onbevoeg, om die land se behuisingsnood die hoof te bied. Dit is hul gebrek aan vaardigheid wat daartoe lei dat desperate mense hulle op onbewoonde grond vestig. As ’n mens in Die Pos lees hoe inwoners sukkel om net ’n eenvoudige munisipale prosedure af te handel soos die afhaal van ’n bestuurslisensie, wil jy nie eens dink hoe ingewikkeld die Tsakane-tameletjie vir die stadsvaders moet wees nie.

Related Articles

Back to top button