BlogsOpinion

Hoofartikel: Die storie van Rip van Winkel se lang slaap

Die mensdom staan kniediep in die Vierde Industriële Revolusie (4IR).

Tegnologie is wonderlik.

Niemand kan werklik met dié stelling verskil nie. Want hoewel ’n mens tog voortdurend die tegnologiese kaf van die koring moet skei, is alles makliker en vinniger.

Die mensdom staan immers kniediep in die Vierde Industriële Revolusie (4IR).

Die 4IR word so ’n paar naweke gelede die besprekingspunt om ons gesinstafel.

 

My man, wat deesdae al die rekenaar soos die nuwe generasie jongmens baasraak, vra ewe onskuldig wat presies die 4IR behels.

Ons skoonseun in die inligtingstegnologiebedryf het ’n uitgebreide verduideliking gegee waarvan ek die inhoud van sy verduideliking in hierdie skrywe slegs ten dele kan weergee. Maar hier volg my beskeie poging: die 4IR word gekenmerk deur ’n samestelling van tegnologieë wat die grense tussen die fisieke, digitale en biologiese sfere laat vervaag.

Dit staan gesamentlik bekend as kuber-fisiese stelsels. Dit word gekenmerk deur baanbrekerswerk op verskeie gebiede wat die volgende insluit: robotika, kunsmatige intelligensie (KI), nanotegnologie, kwantumrekenaars, biotegnologie, die Industriële Internet van Dinge (IIoT), vyfde generasie draadlose tegnologie (5G), toevoegingsvervaardiging of 3D-drukwerk en ten volle outonome voertuie.

Dit was ’n mondvol so rondom die kospotte.

“Hierdie tegnologieë ontwrig feitlik elke bedryf in elke land”, het my skoonseun verder verduidelik. “En die breedte en diepte van hierdie veranderinge lei tot die transformasie van stelsels wat produksie, bestuur en goeie administrasie insluit.”

Teen daardie tyd het die kos heeltemal in my keel gaan vassit en my spysverteringstelsel het botweg geweier om enige verdere begrippe te verteer.

Maar een ding wat ek vir seker van my skoonseun se woorde verstaan het, is dat dié tegnologieë feitlik elke bedryf ontwrig. En die grootste hiervan is my eie lewe.

Ek slaan elke twee jaar in koue koors uit as ek my selfoon moet opgradeer. Want die blote gedagte dat al my inligting op ’n misterieuse wyse van een foon na ’n ander “oorgedra” moet word, bring ’n beklemming om my hart. Die geduldige vrou by die selfoonwinkel kan skaars haar glimlag verberg wanneer ek begin delf in my handsak vir die wagwoorde en kodes en dan weer ander wagwoorde vir “cloud” en my e-pos-adres — wat terloops nie dieselfde is as die adres op my persoonlike rekenaar nie. “Nee, mevrou, jou gmail account sodat ek Facebook en Pinterest vir jou kan aflaai.”

Waar en wanneer het ek hierdie kodes, wagwoorde en adresse geskep? Het ek dit geskep of het die kinders my gehelp? Ek grawe, want gewoonlik skryf ek dit iewers op ’n papiertjie neer.

“Mevrou, ’n mens moenie eintlik die tipe inligting neerskryf nie. Dit is gevaarlik,” hoor ek die selfoonvrou se stem in die agtergrond, maar ek hou my doof.

Ek dink die kuber-fisiese stelsels in my brein is by geboorte vernietig. Dit is weg. Daar is ’n lugleegte.

Ek stap druipstert en dom by die selfoonwinkel uit. My grootste vriend én vyand in my hand vasgeklem.

Tegnologie is wonderlik, oortuig ek myself terwyl ek soos Rip van Winkel in die straat afstap.

Related Articles

Back to top button