BlogsOpinion

Hoofartikel: Les uit die Kruger-wildtuin

Vir ons is die wintervakansie nie dieselfde sonder vier of vyf dae in die wildtuin nie...

My gesin het mooi herinneringe aan die Kruger-wildtuin.

Ons is van daardie mense wat voor sonop kampstoeltjies in die ry uitpak op die dag wat die nasionale besprekings in Gauteng open. Belaglik, want teen die tyd dat ’n mens aan die beurt kom, is al die lekkerste plekke reeds geneem. Tog doen ons dit elke jaar, want vir ons is die wintervakansie nie dieselfde sonder vier of vyf dae in die wildtuin nie.

 

Ek het lankal ophou kla oor die wildtuin se enkele negatiewe punte en geleer om kos op die oop vuur, op lendelam tweeplaatstofies of in gemeenskaplike kombuise gaar te maak.

My gesin is effe vraatsig in die wildtuin in dié opsig dat hulle eintlik net daar is om leeus en luiperds te soek. En dié het ons al menige kere gekry. Tot drie verskillende luiperds op een dag en op die koop toe, een wat sommer ’n bok hier reg teen ons voertuig plattrek.

Ons geheim is om te vra. Ons keer elke voertuig voor en vra uit: Wat het julle gesien? Hoe ver van hier af? Aan watter kant van die pad? En dan ry ons daarheen en “bespiegel” die omgewing deur ons verkykers (soos wat ’n ywerige kind eenkeer opgemerk en daarvoor gesorg het dat dié heel verkeerde uitdrukking deel van ons wildtuin-woordeskat geword het).

Almal is nie ewe lus om stil te hou en met ons te praat nie. Sommiges maak sommer asof hulle nie sien ons wil iets vra nie en hou verby. Ander, weer, hang ook by húlle voertuie se vensters uit en beduie almal opgewonde saam.

Die afgelope vakansie hou ’n voertuig op ’n afgeleë pad langs ons stil. “Wat het julle gesien?” skree my mense opgewonde toe die man sy venster afdraai.

In ’n swaar Amerikaanse aksent antwoord hy: “Wonderlike goed. Wat ’n fantastiese ervaring! Daar was bokke, roofvoëls, kameelperde, nog bokke …”

Hy sien die teleurstelling in ons oë en weet wat ons eintlik vra: “Waar is die katte?”

Dan word hy verleë en gooi sy hande verskonend in die lug: “I am easily satisfied,” glimlag hy breëbek.

Lank nadat ons gegroet het, hang daar nog ’n stilte in ons voertuig.

“Easily satisfied.” Wat ’n lieflike frase wat iemand van die buiteland ons vanoggend in ons eie land moes kom leer. Want “easily satisfied” is beslis nié ’n frase wat ’n mens sal gebruik om die gemiddelde Suid-Afrikaner te beskyf nie.

Related Articles

Back to top button