BlogsOpinion

Hoofartikel: Droomvangers

Dromers laat ’n mens weer glo dat “enigiets moontlik is”.

My oorlede pa was ’n dromer.

Dit is miskien die rede hoekom ek so baie van dromers hou.

My pragmatiese lewensuitkyk kelder die meeste van die tyd my drome. Ek oordink die werklikheid. Te veel en soms tot te laat in die nag. Ek draai my eie drome nek om nog voordat hulle gebore word.

 

Daarom dink ek dat dromers ’n spesiale gawe ontvang het.

My pa het in die laat 1980’s tydens ’n kerkkonferensie sy sendingdroom met ’n stampvol saal predikante gedeel. Sy droom was om in drie dekades 250 kerke in Limpopo te stig, te bou en te gebruik om die evangelie in gemeenskappe te verkondig.

Die “broeders” het hom destyds openlik uitgelag. Maar my pa het aan sy droom bly vashou en net voor sy dood in 2017 het hy nog tot laatnag voor die tekenbord gesit. Besig met die optrek van planne vir die 224ste kerk. Die ander 223 kerke reeds voltooi, ingewy en besig om hul aardse opdrag van dissipelskap uit te voer. Hy het sy aardse droom amper voltooi.

Toe Simon Cowell van America’s Got Talent twee weke gelede saam met die drie ander beoordelaars die groen lig aan die Ndlovu Youth Choir van Limpopo gee om na die volgende ronde van dié talentkompetisie deur te gaan, het ek weer aan my pa gedink.

Ek het aan hom gedink, want hierdie koor is ook dromers. Hulle het immers tydens hul oudisie in Amerika gesing van “My African dream”. Maar ek het ook aan hom gedink omdat ek weet dat een van sy kerke in die Moutse-nedersetting in Limpopo gebou is. Dieselfde dorpie in Limpopo waar die Ndlovu-koor gebaseer is.

Toe die koorleier, Ralf Schmitt, net voor die oudisie sy droomkoor aan die gehoor voorgestel en afgesluit het met die woorde “ons wil die wêreld wys enigiets is moontlik”, kon ek nie die trane keer nie. Want ek weet hoe verskriklik arm die mense van Moutse is. En ek het onthou hoe ek Sondae saam met my pa daar gaan kerk bywoon het. Ek onthou die ritmiese sang van die gemeente. Hoe hulle die Skepper kon prys. Onbeskaamd. Soms tot baie laat op ’n Sondagmiddag. En ek onthou hoe ons land se mense en musiek gedurende die kerkdiens soos ’n tatoeërmerk in my hart geink is.

Terwyl die Ndlovu-koor van hul drome gesing het, kon ek hoop en glo en weet dat as ’n mens droom, is enigiets dalk regtig moontlik.

En toe dink ek aan ons president. Oor sy droom van ’n nuwe, mooier Suid-Afrika. En ek dink hoe almal hom uitlag. En ek wonder self hoe hy breekmure gaan bou teen die vloedgolf van ons land se verskriklike werklikhede.

Maar ek hou van dromers. Hulle laat ’n mens weer glo dat “enigiets moontlik is”. Hulle maak die lewe draaglik en soet. En hoe het Mary Poppins mos gesing: “Just a spoonful of sugar helps the medicine go down. In a most delightful way”.

Related Articles

Back to top button