BlogsOpinion

Hoofartikel: Stoftrap teen die sorge

Om te oorleef, het ’n mens egter nie ’n keuse as om jou kop in skaakmat te sit en toe te laat dat die hart die botoon voer nie.

Soms vind daar ’n gebeurtenis in ’n gemeenskap plaas wat mense so hard tref dat niemand woorde kan vind om dit te beskryf nie.

Die gemeenskap van Bela-Bela en Settlers het die afgelope week só ’n gebeurtenis beleef toe twee bekende boere van die Springbokvlakte, Dirk en Marten Daling, helder oordag tydens ’n rooftog gewond is.

 

’n Mens weet dat Suid-Afrikaners eintlik daagliks sonder woorde gelaat word omdat die skok van misdaad te groot geword het. Maar as die skrik sommer so midde in ’n gemeenskap kom staan, dan dink ’n mens mos baie diep oor al die gruweldade wat daagliks in die land gebeur.

En as Suid-Afrikaners hul koppe lank genoeg kans gee om hul harte te oorrompel, kan hulle in ’n baie donker, diep gat beland.

Om te oorleef, het ’n mens egter nie ’n keuse as om jou kop in skaakmat te sit en toe te laat dat die hart die botoon voer nie. Want dan begin ’n mens ook die mooi stories so tussen die misdaadrillers raaksien.

Soos die storie van die petroljoggie Nkosikho Mbele (28) van Khayelitsha in die Wes-Kaap wat Monet van Deventer (21) gehelp het om R100 se brandstof in haar voertuig te gooi. Van Deventer het by die vulstasie langs die N2 stilgehou om brandstof in te gooi en toe besef dat sy nie haar bankkaart by haar het nie. Mbele het tot haar redding gekom en self die R100 betaal.

Van Deventer het op haar beurt Mbele se goeie daad op haar Facebook-blad gedeel en binne drie dae is dié inskrywing meer as 52 000 keer gedeel. En intussen het Van Deventer meer as R300 000 vir Mbele ingesamel sodat hy onder meer sy sinkhuis vir ’n steenhuis kan verruil en sy kinders se skoolgeld kan betaal.

’n Mens lees verder van die wonderwerkstories wat ’n week gelede by die Klein-Kariba-vakansieoord buite Bela-Bela tydens die ATKV se algemene jaarvergadering gedeel is. Soos die ATKV-tak in Uitenhage wat nie net ’n biblioteek vir tweedetaalsprekers in Afrikaans op die been gebring het nie, maar ook die afgelope drie jaar soggens pap aan 50 kinders bedien het.

’n Mens lees ook in hierdie uitgawe van Die Pos van sakeondernemings wat hul harte en beursies oopmaak vir diegene in die gemeenskap wat regtig in nood verkeer.

Soos die storie van ’n plaaslike meubelwinkelgroep wat die hand uitreik na ’n townshipkleuterskool in Modimolle.

In Bela-Bela het twee sakeondernemings weer besluit om saam te werk aan ’n projek waar honderde pare skoolskoene aan behoeftige leerders geskenk word.

Jou hart luister na hierdie mooi stories en jou voete wil die riel in die Afrika-stof dans. ’n Dans wat al die misdaad onder die stof vertrap. ’n Dans wat jou doof maak vir al die rassisme, onsekerheid en verdeeldheid in die land. ’n Dans saam met die 52 000 mense wat Mbele se storie gedeel het. ’n Dans soos net Suid-Afrikaners onder die Afrika-son kan uittrap.

Related Articles

Back to top button