BlogsOpinion

Hoofartikel: Fluitjieblaser betaal duur prys

Sal ek die moed hê om die fluitjie te blaas as ek weet ek is my werk die volgende dag kwyt?

Soms wonder ek oor hoe baie sneeu ’n korrupsiebal werklik versamel?

Maar ek vermoed dat so ’n bal ontsettend groot kan raak soos dit al tuimelend spoed optel in ’n vernietigende pad na onder.

En hoe groter, hoe meer onstuitbaar.

Man with Red Whistle in Office

 

Ek lê soms snags en wonder hoe ek sal reageer as dié bal ongevraagd oor my landgoed sou rol? Wat sal ’n mens doen as jou senior eendag instap en van jou verwag om ’n dokument te teken of ’n bankoorbetaling te maak wat jy voor jou heilige siel weet aan bedrog grens?

Sal ek die moed hê om die fluitjie te blaas as ek weet ek is my werk die volgende dag kwyt? Hoe gaan ek die huisverband, die voertuigpaaiement en die skoolgeld betaal?

Sal ek nie maar stilbly en vasklou aan die rollende bal nie? En ek wonder of ek net ’n deler sal bly? Sal ek die versoeking kan weerstaan as die geld wat mettertyd onderdeur die tafel aangebied word, al hoe meer nulle bykry?

Ek weet nie wat ek sal maak as ek moet besluit tussen honger en oorvloed nie en ek is so diep dankbaar dat ek nog nooit voor so ’n keuse gestel is nie.

Maar Mpho Seero was nié so gelukkig nie. Hy was die hoof van die ouditafdeling by die Matlosane-munisipaliteit (wat onder meer Klerksdorp en Orkney bedien) en het in sy termyn onreëlmatighede vir die 2011-’12-boekjaar van ongeveer R36,8 miljoen, waarby hooggeplaastes betrek is, by dié munisipaliteit uitgewys.

Omdat Seero die regte ding gedoen het, is hy geviktimiseer en uit sy pos geskors.

Die openbare beskermer (OB) het die afgelope week bevind dat dié munisipaliteit “onregverdig en onreëlmatig” was toe hulle Seero geskors het.

Maar vier jaar het verloop voordat geregtigheid vir Seero geskied het. In daardie vier jaar, het die OB bevind, het Seero en sy gesin emosioneel gely en is hy in ’n stadium weens depressie gehospitaliseer.

Die Matlosana-munisipaliteit is nou deur die OB gelas om Seero skriftelik om verskoning te vra. ’n Persoonlike oorwinning vir Seero. Maar ’n nog groter oorwinning is die feit dat die OB die betrokke munisipaliteit gelas het om ’n beleid in te stel wat fluitjieblasers in die toekoms moet beskerm.

En skielik is daar ’n straaltjie lig wat ook op plaaslike regeringsvlak begin deurskemer. En ek hoop dat die minister van plaaslike regering wat in pres. Cyril Ramaphosa se nuwe kabinet gaan dien, wetgewing sal deurvoer wat alle munisipaliteite sal dwing om ’n soortgelyke beleid, soos wat die OB aan Matlosane voorgeskryf het, te aanvaar.

Related Articles

Back to top button