Ek lees nou die dag ’n mooie stuk oor steggies en die tannies wat daaragter sit.
Ek glimlag breed, want my tuin is vol name. Dit is nie ’n mooi of indrukwekkende tuin nie, maar een vol stories wat my hart bly maak.
In die en dáárdie pot staan twee tant Anse, hier rank ’n oom Hoffie (sý wasplante meters hoog die bome in; myne ’n blomlose klein buksie), die eksentrieke Karoo-oom se vetplante (streng volgens sy instruksies) gedy in die Bosveldweer. Die mishandelde grootblaarplant wat voor die hofgebou gered is, is immerdankbaar en gedy. Ouma-en-haar-bure-in-die-aftreeoord se vetplantbydraes raak goud in die herfsson. ’n Buurman se fyn pers Botswana-lelies roep wanneer die reën kom.
In my voortuin staan die nageslag van die plantjie wat mosadi Linda se stokou ma gestuur het as dankie vir ‘n “aangepassde” baadjie blinkpers in die son. Die plantjie het sy wortels in die tuin by ’n staatshospitaal in verre Limpopo geskiet.
Die buurvrou se wildepatat rank wild en welig. Die kaktus met haar pienk blomkroontjie kom al van studentedae af saam en dis ’n genade dat sy nie kan of wil uitpraat nie.
Skoonma glo gesteelde steggies groei eenvoudig beter. Mits jy mooi werk en net afknip wat jy nodig het. (Kort duskant haar 80 jaar is haar kinders steeds skrikkerig om haar op besoek aan botaniese tuine te neem. Kirstenbosch, het hulle besluit, is haar nie beskore nie.)
Dit is te danke aan háár entoesiasme en groot liefde vir plante dat die tuingogga gebyt het. (Hierdie stuk vra vir ’n kwinkslag oor skoonma-se-tong. Ek sal my weerhou!)
Ná ’n Kaapse kuier pak sy ons voertuig hoog met groot stukke tuisgebakte beskuit, gebottelde granaatpitte en kwepers en steggies, saggies verpak in bierboksies. Met lang instruksies oor hoe om te maak. Instruksies wat ek voor my siel weet sy self nie sou volg nie.
As ’n mens groen vingers het, groei goed mos vanself.
Die sondes van die vaders word besoek aan hul kinders. My kombuisvensterbank staan dig gepak met die seuns se gulsige Venus-vlieëvanger, tientalle basiliekruidsteggies, soetrissiesade wat droog.
Op ’n piering wag die onbekendes om geplant te word — aangedra in broeksakke, tasse en sweterige handjies. ’n Vonds. ’n Avontuur.
As die donkermaan laatnag bekommernisse aanblaas en my wil wysmaak dat my land onherstelbaar vergroeid is met netels en doringbosse, dan tel ek my seëninge. Van grond hê om met my hande in te kan woel, sade om te plant en vrugte om te pluk.
Op die derde dag het die Skepper tuinhandskoene aangetrek en plante gemaak. Die dorings en die netels. Ook die kosmosse wat groei waar hulle nie geplant is nie en die geharde bittereindervetplante wat min water vra.