BlogsOpinion

Hoofartikel: Net die tyd sal leer

Ramaphosa sal nou stewig moet vasvat as hy stabiliteit in die land wil verseker.

Wat bly daar nog oor om te sê oor vanjaar se verkiesing?

Ons het almal reeds die opsommings en hoofopskrifte gesien en gehoor: Die markte wat saam met die ANC juig oor sy besliste meerderheid wat glo toegeskryf kan word aan pres. Cyril Ramaphosa se gewildheid. Ramaphosa wat nou stewig sal moet vasvat as hy stabiliteit in die land wil verseker en die feit dat almal asem ophou oor die aanwysing van die nuwe ministers.

 

Die DA wie se verkiesingsveldtog klaarblyklik misluk het en wat nou hand diep in eie boesem moet steek nadat duisende geswore DA-stemmers landwyd gaan skuiling soek het by die Vryheidsfront Plus, die ACDP en Patricia de Lille se Good-party.

Die Vryheidsfront Plus wat die DA in al die provinsies laat bloei het en sy aantal stemme sedert 2014 met 150% (250 000 stemme) verbeter het tot 414 864.

En dan is daar die radikale rooi barette van Julius Malema wat met 19 nuwe LP’s in die parlement spog en nou in drie provinsies die amptelike opposisie is nadat die DA sy posisie as amptelike opposisie in KwaZulu-Natal aan die IVP afgestaan het en in Mpumalanga aan die EFF.

Ook hier in die Waterberg het die uitslae die ANC én die DA — wat albei steun verloor het — onkant betrap en die Vryheidsfront Plus en die EFF breed laat glimlag.

As daar één woord is wat Die Pos vanjaar die meeste saam met die woord “stem” gehoor het, is dit die woord “dienslewering”.

Talle mense wou nie eens luister as ’n mens wou verduidelik wat die verskil tussen ’n munisipale en nasionale verkiesing is nie. Kiesers op die platteland was vanjaar witwarm oor bruin water, Eskom, slaggate in die paaie en lang toue by die lisensiekantore. Hulle was moeg vir politieke speletjies en beloftes. En hulle wou met die trek van hul kruisies (of wegbly van die stembus) uiting aan dié ontevredenheid gee.

Inwoners van Bela-Bela (wat deur die ANC bestuur word) en van Vaalwater, Modimolle en Mookgophong (met die DA aan die stuur) het toenemend begin kla dat dienslewering bly versleg terwyl tariewe bly styg. Belastingbetalersverenigings, sakekamers, die vakbond Solidariteit en AfriForum moes in bykans al die dorpe ingryp om inwoners te help om munisipale diensleweringskrisisse die hoof te bied.

Die Vryheidsfront Plus se belofte aan sy nuwe steunbasis is dat hy hom sal beywer vir werkskepping en verbeterde lewensstandaarde vir alle bevolkingsgroepe in die land. Hierdie beloftes is niks nuuts vir Suid-Afrikaners nie. Dit is ’n baie edele ideaal wat al oor talle politici van verskillende partye se lippe gerol het.

Of daar ’n party is wat dít kan regkry, sal net die tyd leer.

Related Articles

Back to top button