BlogsOpinion

Hoofartikel: Die stories by ’n oggendmark

Die mense wat neus optrek vir ander se goed op tweedehandse markte, weet nie noodwendig hoe dit voel as jy emigreer en al jou laaste losgoed moet verkoop nie.

“Nee dankie,” sê die deftige mevrou met die pêrels om die nek.

Sy kyk die vrou by die stalletjie met die tweedehande goedjies uit die hoogte aan en wuif ’n denkbeeldige vlieg weg. “Ek het genoeg van my eie crap by die huis.”

Die stalletjievrou kan nie vinnige genoeg aan ’n antwoord dink nie. “Dis nie crap nie!” skree haar man die pêreldraer vies agterna. “Dit is my vrou se pride and joy wat sy hier uitgepak het!”
Maar die deftige mevrou hoor nie. Sy is te besig om winskopies uit te snuffel. Die een se dood is mos maar die ander se brood, jy weet? Sy is hier om erfstukke teen ’n appel en ’n ei op te raap. Nie om mense se gemors te koop nie.

 

“Verskoon my, maar hoekom is alles so duur?” vra nog iemand. Sy wys afkeurend om haar na stalletjies waar koekblikke R5 en boeke R2 kos. Sy word kriewelrig as die goed so “duur” is, want sy wil dit aan die antiekversamelaars gaan herverkoop en vier keer meer vra.

Oral om my het mense tentjies opgeslaan en hul ware hoopvol op die tafels en grond uitgepak: Verslete langspeelplate, gebruikte kombuisware, motgevrete pelsjasse, kristalbakke, blou Delftborde, pragtige handgeborduurde tafeldoeke, lendelam bedpanne, ovaal houtrame met statige voorvaders in. Op ander tafels pryk fyn kamee-borsspelde in houtkissies, onoopgemaakte pakkies met vintage sakdoeke, kordate, groen enemelpotte, Weermagmedaljes, Spoorwegbankies.

Teen tienuur, wanneer die kerk uitkom, is die meeste besoekers daar. Party bring hul honde aan leibande saam. In die agtergrond verniel ’n kreunende sanger Neil Diamond se Morningside.

The old man died
And no one cried
They simply turned away
And when he died
He left a table made of nails and pride
And with his hands he carved these words inside
“For my children”

Die mense wat neus optrek vir ander se goed op tweedehandse markte, weet nie noodwendig hoe dit voel as jy emigreer en al jou laaste losgoed moet verkoop nie. Of van bejaardes wie se kinders reeds in die buiteland is en nie plek of lus het vir al die geskiedenis nie. Of van douvoordag opstaan en duisende kilometer aflê om te gaan stalletjie opslaan nie.

Of hoe dit voel om ’n afleggingsbrief in die hand te hou nie. Of dat dit bloot vir party mense héérlik is om hierdie werk te doen nie.

Dit is nie altyd, soos in Morningside, dat mense goed op sulke markte verkoop omdat hulle nie “omgee”nie, of dat hulle nie huil daaroor nie. Inteendeel.

Related Articles

Back to top button