BlogsOpinion

Hoofartikel: Die bekoring van klein dorpies

“Klein dorpies” het miskien sy skerp kant. Maar die mooi van klein dorpies is soveel meer en soms moet ’n mens doelbewus daarop fokus.

“Klein dorpies” kan soms vreeslik geniepsig wees.

Vra maar enigiemand wat al by ’n “storie” betrokke was. “Die mense” en hul praatjies is soms net so vernietigend as die werklike trauma wat ’n mens beleef.

Klein dorpies en hul mense het egter ook die vermoë om stukkende mense op te lig en hul hande hoog te hou, want ons moet mekaar weer die volgende dag in die oë kyk.

 

Die tragedie wat twee weke gelede by Laerskool Warmbad afgespeel het, het Die Pos opnuut laat kyk na die uniekheid van klein dorpies: Mense op klein dorpies het nog omgeeharte. Hulle weet dat daar twéé gesinne met kinders betrokke was by hierdie tragedie.

Waar ander media na hartelus ondeurdagtige veroordelings en bespiegelings op hul Facebook-bladsye ná sulke tragedies toelaat, laat Die Pos dit byvoorbeeld nie toe nie. Ons vee dit uit, want ons “is nie so nie”.

Op ’n meer persoonlike vlak het ek die afgelope ruk die goedheid van my eie “klein dorpie” op meer as een geleentheid ervaar.

So ’n maand gelede het ons sleepwa onverklaarbaar by een van die tolhekke op pad terug van Pretoria afgehaak. Minute later het die Themistocleous-gesin van Bela-Bela en die Beukes-gesin van Bospoort stilgehou: “Alles reg? Kan ons help?” wou hulle weet.

’n Paar weke later het ’n motorwerktuigkundige ons ou Ford F100-bakkie Pretoria toe geneem vir herstelwerk en langs die pad gaan staan. Minute later is foto’s op veilig-heidsgroepe van die verlate voertuig versprei en bekommerde mense wat die voertuig herken het, wou weet of dit nie dalk gesteel is nie.

Verlede naweek het ek gou op pad stad toe langs die pad stilgehou om sitplekke met die bestuurder te ruil. Ek was skaars uit die voertuig of die Coetzees van Bela-Bela trek agter my in: “Alles reg? Kan ons help met iets?”

“Klein dorpies” het miskien sy skerp kant. Maar die mooi van klein dorpies is soveel meer en soms moet ’n mens doelbewus daarop fokus. Hier gee mense nog om vir mekaar. Ons beledig nie mekaar onnodig op Facebook nie. Ons vertroos eerder as wat ons vinger wys. Want hier ken ons mekaar. Ons ken mekaar se kinders, mekaar se voertuie, en soms — dank die Here daarvoor — ook mekaar se harte.

Related Articles

Back to top button